Ou Testament

Nuwe Testament

Maleagi 2:10-17 Bybel vir Almal (ABA)

10. Ons het almal een Vader, een God het ons almal gemaak! Hoekom doen mense nie wat hulle vir mekaar belowe het nie en hoekom breek hulle die verbond wat God met ons voorvaders gemaak het?

11. Die mense van Juda het nie gedoen wat hulle belowe het nie. Hulle het ’n baie verkeerde ding gedoen in die land Israel, in Jerusalem. Ja, hulle het die Here se tempel ontwy, die Here is lief vir die tempel. Mans het getrou met vroue wat gode van ander volke dien.

12. Die Here sal elkeen wat dit doen, afsny van die Israeliete. Hy sal nie meer offers vir die Here kan bring nie, die Here wat oor alles regeer.

13. Julle doen nóg iets wat verkeerd is: Julle staan en huil by die altaar van die Here, omdat Hy nie meer julle offers wil hê nie.

14. En julle vra: “Hoekom wil U nie meer ons offers hê nie?”Dit is omdat die Here weet julle het nie gedoen wat julle belowe het toe julle met julle vroue getrou het nie. Elke man het belowe sy vrou sal sy maat wees wat altyd by hom sal bly, maar julle het nou julle beloftes gebreek.

15. God het jou en jou vrou so gemaak dat julle soos een mens moet wees. God maak die liggaam en die gees van die mens. Hoekom? Omdat God wil hê julle moet kinders kry wat Hom dien. Julle moenie julle beloftes breek wat julle aan julle vroue gemaak het nie.

16. Die Here, die God van die Israeliete, sê Hy haat dit wanneer mans van hulle vroue skei. Die Here wat oor alles regeer, sê Hy haat dit wanneer mans wreed is met hulle vroue. Julle moet doen wat julle vir julle vroue belowe het.

17. Die Here is moeg om te hoor wat julle sê. Maar julle vra: “Wat het ons gesê wat die Here moeg gemaak het?”Julle het Hom moeg gemaak toe julle gesê het: “Die Here hou van mense wat verkeerd doen,” en toe julle gevra het: “Waar is die God wat moet kyk dat mense reg doen?”

Lees volledige hoofstuk Maleagi 2