Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:4-22 Bybel vir Almal (ABA)

4. En nou het julle God die Here die ander Israeliete laat wen teen hulle vyande, Hy het dit vir hulle belowe. Gaan nou terug na julle woonplekke in die land wat aan julle behoort, die land oos van die Jordaan-rivier. Dit is die land wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gegee het.

5. Maar onthou, julle moet seker maak dat julle doen wat die gebooie en die wette sê wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gegee het. Julle moet lief wees vir julle God die Here, julle moet lewe soos Hy wil hê en julle moet doen wat sy gebooie sê. Julle moet aanhou om Hom te dien met julle hele hart, met julle hele lewe.”

6. Josua het hulle geseën en hy het hulle laat gaan, en hulle het na hulle woonplekke gegaan.

7. Moses het vir die een helfte van die Manasse-stam grond gegee in die land Basan, en Josua het vir die ander helfte van die stam grond gegee by die ander Israeliete wes van die Jordaan-rivier. Josua het hulle laat gaan na hulle woonplekke en hy het hulle geseën.

8. Hy het vir hulle gesê: “Julle mag teruggaan na julle woonplekke met die baie goed, die groot troppe beeste, skape en bokke, die silwer en goud en brons en yster, en die baie klere wat julle van die vyande gevat het. Maar julle moet vir die ander mense in julle stamme ook van daardie goed gee.”

9. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het toe teruggegaan. Hulle het weggegaan van die ander Israeliete by die stad Silo in die land Kanaän. Hulle het na die land Gilead gegaan, die land wat aan hulle behoort. Die Here het vir Moses gesê hulle moet daardie land vat.

10. Hulle het by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier gekom, dit was in die land Kanaän. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het daar ’n altaar gebou, ’n groot altaar.

11. Die ander Israeliete het gehoor dat die manne van die twee en ’n halwe stamme ’n altaar gebou het langs die grens van die land Kanaän, by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier. Dit was langs die ander Israeliete se grond.

12. Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering in Silo bymekaargekom om oorlog te gaan maak teen die twee en ’n halwe stamme.

13. Maar die Israeliete het eers vir Pinehas seun van die priester Eleasar gestuur na die twee en ’n halwe stamme in die land Gilead.

14. Tien leiers het saam met hom gegaan, ’n leier van elke stam. Elke leier was die hoof van ’n groep families van Israel.

15. Toe hulle by die twee en ’n halwe stamme in die land Gilead kom, het hulle vir daardie stamme gesê:

16. “Die volksvergadering van die Here vra: Hoekom is julle ontrou aan die God van Israel? Julle het opgehou om die Here te dien toe julle vir julle ’n altaar gebou het. Julle is nou opstandig teen die Here.

17. Ons het voorheen by die stad Peor groot sonde gedoen en die Here het die volk swaar gestraf, maar tot nou toe het ons nog nie weer rein geword nie.

18. As julle vandag ophou om die Here te dien en as julle opstandig is teen Hom, dan sal Hy môre kwaad wees vir ál die Israeliete.

19. As die land wat aan julle behoort, onrein is, dan moet julle kom na die land wat aan die Here self behoort, die land waar sy tempel-tent is, en julle moet vir julle grond vat tussen ons. Maar julle moenie opstandig wees teen die Here en teen ons nie. Julle moenie vir julle ’n eie altaar bou wat nie die altaar van ons God die Here is nie.

20. Akan seun van Serag was ontrou, hy het van die goed gevat wat aan die Here gewy was, en die Here het nie net vir hóm laat sterf oor sy sonde nie, die Here was kwaad vir ál die Israeliete.”

21. Die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir die hoofde van die familie-groepe van Israel gesê:

22. “Die Here is die God van die gode, die Here is die God van die gode! Hy weet, en julle moet ook weet hoekom ons dit gedoen het. Ons het dit nie gedoen omdat ons opstandig wil wees teen die Here of omdat ons ontrou wil wees aan Hom nie. As julle dink dat ons verkeerd gedoen het, dan moet julle ons vandag doodmaak.

Lees volledige hoofstuk Josua 22