hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 7 Bybel vir Almal (ABA)

Esra

1. Later het Esra na Jerusalem gekom. Dit was toe Artasasta koning van Persië was. Esra was die seun van Seraja seun van Asarja seun van Gilkija

2. seun van Sallum seun van Sadok seun van Agitub

3. seun van Amarja seun van Asarja seun van Merajot

4. seun van Seragja seun van Ussi seun van Bukki

5. seun van Abisua seun van Pinehas seun van Eleasar seun van die hoëpriester Aäron.

6. Dit is die Esra wat uit die land Babel gekom het. Hy was ’n skrifgeleerde wat die Wette van Moses goed geken het, die wette wat die Here, die God van Israel, vir sy volk gegee het. Die Here het sy hand oor Esra gehou en Hy het hom geseën, daarom het die koning vir Esra alles gegee wat hy gevra het.

7. Daar het Israeliete, priesters, Leviete, mense wat gesing het, poortwagte en tempel-slawe saam met Esra na Jerusalem gegaan. Dit was in die sewende jaar nadat Artasasta koning geword het.

8. Esra het in Jerusalem gekom in die vyfde maand van die sewende jaar nadat Artasasta koning geword het.

9. Ja, Esra het die mense uit die land Babel gelei op die eerste dag van die eerste maand en hy het in Jerusalem gekom op die eerste dag van die vyfde maand. Sy God het hom beskerm,

10. want hy het altyd gevra wat die wette van die Here sê en hy het dit gedoen. Hy het ook vir die Israeliete geleer wat die Here wil hê en wat Hy besluit het.

Die brief wat die koning vir Esra gegee het

11. Die priester Esra het die wette van die Here goed geken. Koning Artasasta het vir Esra ’n brief gegee. Die koning het geskryf:

12. Artasasta, koning van konings, aan die priester Esra, wat die wette van die God van die hemel ken:

13. Ek sê dat elke Israeliet in my land, en ook elke priester en Leviet wat na Jerusalem wil gaan, saam met jou mag gaan.

14. Ek, die koning, en my raadgewers stuur jou om in Juda en Jerusalem te gaan kyk hoe dit gaan. Jy moet kyk of die Judeërs daar lewe soos jou God se wette sê, die wette wat jy by jou het.

15. Jy moet die silwer en die goud saamneem wat ek en my raadgewers gegee het vir die God van Israel. Sy tempel is in Jerusalem.

16. Jy moet ook al die silwer en goud saamneem wat jy kan kry in die provinsie Babel, jy moet dit neem saam met die presente wat die mense en die priesters gee vir die tempel van hulle God in Jerusalem.

17. Jy moet hierdie geld gebruik om bulle, ramme en lammers te koop en ook die koring-offers en drank-offers wat daarby moet wees. Julle moet dit offer op die altaar by die tempel van julle God in Jerusalem.

18. Jy en die ander priesters mag die silwer en goud wat oorbly, gebruik soos julle dink is reg. Julle moet dit gebruik soos julle God wil hê.

19. Mense sal dinge vir jou gee om te gebruik vir die werk in die tempel van jou God. Jy moet dit vir die God van Jerusalem bring.

20. As daar nog ander dinge is wat nodig is vir die tempel, dan mag jy neem van die geld wat aan die koning behoort, jy mag dit gebruik om te betaal vir daardie dinge.

21. Ek, koning Artasasta, sê nou ook vir al die mense wat werk met die koning se geld in die provinsie Wes-Eufraat: Julle moet alles gee wat die priester Esra vir julle vra. Hy is die skrifgeleerde wat die wette van die God van die hemel ken.

22. Julle mag vir hom 100 talente silwer, 100 kor koring, 100 bat wyn, 100 bat olyf-olie gee, en al die sout wat nodig is.

23. Julle moet alles wat die God van die hemel sê, reg doen vir sy tempel. Dan sal Hy nie kwaad word nie en Hy sal nie die land van die koning en sy seuns straf nie.

24. Ons sê ook nou vir julle dat niemand moet sê dat die priesters en Leviete belasting moet betaal nie, ook nie die mense wat sing en die poortwagte, die tempel-slawe en die ander werkers in hierdie tempel nie.

25. En jy, Esra, jy het wysheid van jou God gekry. Jy moet regeerders en regters kies en aanstel, sodat hulle kan oordeel oor al die mense in Wes-Eufraat, almal wat die wette van jou God ken. En jy moet die wette leer vir die mense wat dit nie ken nie.

26. Julle moet elkeen oordeel en straf wat nie doen wat die wette van jou God en die wette van die koning sê nie. Hy moet sterf, of julle moet hom wegjaag uit die land, of hy moet boete betaal of tronk toe gaan.

27. Ek prys die Here, die God van ons voorvaders. Hy het die koning laat besluit om die tempel van die Here in Jerusalem mooi te maak

28. en Hy het die koning en sy raadgewers en al die belangrike amptenare vriendelik gemaak met my. Ek het sterk gevoel omdat my God my so gehelp het, en ek het leiers van die Israeliete bymekaargeroep om saam met my te gaan.