Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:5-18 Bybel vir Almal (ABA)

5. Ons het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Ons het nie geluister na U nie, ons het nie gedoen wat U gesê het ons moet doen nie.

6. Ons het nie geluister na die profete nie. Hulle was u dienaars. Hulle het u boodskap gebring vir ons konings, ons amptenare, ons voorvaders, vir al die mense in die land.

7. U het reg gedoen, maar ons het nie reg gedoen nie. Ons is skaam. Ons, die mense van Juda en Jerusalem, al die Israeliete, is skaam. Ons was ontrou aan U, en U het ons weggejaag na ander lande, lande wat naby is en lande wat ver is.

8. Ons is skaam, Here, want ons het sonde gedoen teen U. Ons konings, ons amptenare en ons voorvaders het sonde gedoen teen U.

9. Ons het nie geluister na U nie. Maar U, ons God die Here, U is genadig, U sal ons sonde vergewe.

10. “U is ons God die Here, maar ons het nie na U geluister nie. U het die profete, u dienaars, na ons toe gestuur. Hulle het u wette vir ons gegee, maar ons het nie gelewe soos die wette sê nie.

11. Al die Israeliete was ongehoorsaam aan U. Hulle het nie geluister na wat U gesê het nie. Daarom het U gedoen wat U gesê het. U het gesê U sal ons straf as ons sonde doen teen U. Moses, u dienaar, het dit so geskryf in sy wette.

12. U het gedoen wat U vir ons en ons konings gesê het. U het dit baie sleg laat gaan in Jerusalem, dit het nog nooit in die hele wêreld so sleg gegaan nie.

13. Moses het dit so geskryf in sy wette, en dit gaan baie sleg met ons. Maar ons het aangehou om verkeerd te doen en ons het vergeet dat U altyd reg is. Ons het nie gevra dat U weer goed moet wees vir ons nie, U, ons God die Here.

14. En U, ons God die Here, U doen reg. U doen wat U gesê het. Ons het nie geluister na U nie, en U het dit sleg laat gaan met ons.

15. “En nou, Here ons God, U het lank gelede u volk uit Egipte gebring toe U wonderwerke gedoen het. Daarom ken al die mense u Naam vandag nog. Maar ons het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen.

16. Here, U het altyd u volk gered, red ons ook nou. Hou op om kwaad te wees vir u stad Jerusalem, vir u gewyde berg. Ons en ons voorvaders het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Dit is hoekom al die volke rondom ons nou lag vir Jerusalem en vir ons, u volk.

17. “En nou, ons God, luister asseblief na my. Ek is u dienaar en ek bid: U moet asseblief weer goed wees vir u tempel wat verwoes is, doen dit omdat U God is.

18. Luister asseblief, my God, kyk hoe verwoes is ons en Jerusalem, die stad wat aan U behoort. Ons bid dat U weer goed moet wees, nie omdat ons iets gedoen het wat reg is nie, maar omdat U lief is vir ons.

Lees volledige hoofstuk Daniël 9