Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:6-23 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die manne het uitgegaan veld toe om oorlog te maak teen die manne van Israel, en die oorlog het begin in die Efraim-bos.

7. Die manne van Dawid het daar gewen teen die manne van Israel, en hulle het daardie dag baie manne doodgemaak, 20 000 manne.

8. Die oorlog het oor die hele land versprei, en meer mense het daardie dag in die bos gesterf as in die oorlog.

9. Dawid se manne het vir Absalom gekry. Absalom het op ’n muil gery. Toe die muil onder die takke van ’n groot boom hardloop, het Absalom se kop vasgehaak in die boom en hy het in die lug bly hang. Die muil waarop hy gery het, het verder gegaan.

10. Iemand het dit gesien en hy het dit vir Joab gaan vertel. Hy het gesê: “Weet jy, ek het vir Absalom gesien, hy het aan ’n boom gehang.”

11. Joab sê toe vir die man wat dit vir hom kom sê het: “Regtig? Het jy hom gesien? Hoekom het jy hom nie doodgemaak nie? Dan moes ek vir jou tien stukke silwer en ’n belt gegee het.”

12. Die man het vir Joab gesê: “Ek sou nie die prins doodgemaak het nie, ook nie as jy vir my 1 000 stukke silwer gegee het nie. Ons het gehoor toe die koning vir jou en Abisai en Ittai gesê het: ‘Ek wil hê julle moet die jongman Absalom beskerm.’

13. Of as ek hom doodgemaak het, dan sal die koning dit hoor, hy vind altyd alles uit wat gebeur. En dan sal jy my nie beskerm nie.”

14. Joab het gesê: “Ek wil nie hier by jou staan en wag nie.”Hy het drie stokke geneem en hy het hulle deur Absalom se hart gesteek daar waar hy aan die boom gehang het en nog gelewe het.

15. Tien jongmanne, wapendraers van Joab, het om Absalom kom staan en hulle het hom doodgeslaan.

16. Toe het Joab die ramshoring geblaas, en die manne het opgehou om die manne van Israel te volg en te jaag, want Joab het sy manne laat terugkom.

17. Hulle het Absalom se liggaam geneem en hulle het dit in ’n groot gat in die bos gegooi. Hulle het ’n baie groot hoop klippe op hom gepak. Al die manne van Israel het gevlug, elkeen na sy huis.

18. Toe Absalom nog gelewe het, het hy vir homself die klip-paal ingeplant in die Koning-vallei sodat mense sy naam sal onthou. Hy het gesê hy doen dit omdat hy nie ’n seun het nie. Mense noem die klip-paal tot vandag toe die gedenksteen van Absalom.

19. Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Ek sal hardloop en vir die koning die goeie nuus bring dat die Here hom gered het van sy vyande.”

20. Maar Joab het gesê: “Nee, jy is nie vandag die regte man om goeie nuus te bring nie, jy kan op ’n ander dag goeie nuus bring, maar vandag kan jy nie goeie nuus bring nie, want die koning se seun is dood.”

21. Joab het toe vir die Kussiet gesê: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.”Die Kussiet het voor Joab gebuig en hy het gegaan.

22. Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gevra: “Dit maak nie saak wat gebeur nie, ek wil asseblief ook agter die Kussiet hardloop.”Joab het geantwoord: “Seun, hoekom wil jy ook hardloop? Jy sal nie ook die boodskapper se beloning kry nie.”

23. Maar Agimaäs het gesê: “Dit maak nie saak nie, ek wil hardloop.”Joab sê toe: “Goed, jy mag hardloop.”Agimaäs het op die pad langs die Jordaan-rivier gehardloop, en hy het by die Kussiet verbygegaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18