Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:13-28 Bybel vir Almal (ABA)

13. Die koning van Aram het gesê hulle moet uitvind waar Elisa is, sodat hy mense kan stuur om vir Elisa te vang. Die koning hoor toe dat Elisa in die stad Dotan is.

14. Die koning van Aram stuur toe perde en oorlogkarre en baie manne na Dotan. Hulle het in die nag daar gekom en hulle het rondom die stad gaan staan.

15. Die volgende oggend het die bediende van Elisa, die man van God, vroeg opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy al die manne en die perde en die oorlogkarre rondom die stad. Hy het vir Elisa gesê: “Ag, Meneer, wat moet ons doen?”

16. Elisa het vir die bediende gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie, daar is meer by ons as by hulle.”

17. Elisa het gebid en gevra: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy kan sien.”Die Here het die oë van die jongman oopgemaak, en toe sien hy dat die berge rondom Elisa vol perde en oorlogkarre van vuur is.

18. Toe die Arameërs nader kom, het Elisa tot die Here gebid en gevra: “Here, laat hierdie mense asseblief blind word.”Die Here het gedoen wat Elisa gevra het, en die Arameërs het blind geword.

19. Elisa het vir hulle gesê: “Julle is op die verkeerde pad en by die verkeerde stad. Kom saam met my, dan sal ek julle bring in die stad wat julle soek.”En toe bring Elisa die Arameërs na die stad Samaria.

20. Toe hulle in Samaria kom, het Elisa gebid: “Here, maak nou hierdie manne se oë oop sodat hulle kan sien.”Die Here het dit gedoen, en toe hulle kyk, was hulle binne-in Samaria.

21. Die koning van Israel het vir Elisa gevra: “Meneer, moet ek hierdie Arameërs doodmaak?”

22. Maar Elisa het gesê: “Nee, jy moenie vir hulle doodmaak nie. Jy het hulle nie in ’n oorlog gevang nie, daarom mag jy hulle nie doodmaak nie. Gee vir hulle kos en water sodat hulle kan eet en kan teruggaan na hulle koning toe.”

23. Die koning van Israel het toe vir hulle ’n groot fees-ete gegee, en nadat die Arameërs geëet en gedrink het, het hy hulle laat gaan. Hulle het teruggegaan na hulle koning toe, en die Arameërs het nie gou weer die stede in die land Israel kom aanval nie.

24. Later het koning Ben-Hadad van Aram al sy manne laat bymekaarkom en hulle het hulle tente rondom die stad Samaria opgeslaan.

25. Hulle het daar gebly, en die kos in Samaria het baie min geword. Die kos het later baie duur geword, ’n donkie se kop het 80 sikkels gekos en ’n klein bietjie duiwemis het vyf sikkels gekos.

26. Toe die koning van Israel eendag op die muur van die stad verbyloop, het ’n vrou vir hom geskree: “Meneer die koning, jy moet my help!”

27. Die koning het geantwoord: “Die Here sal jou moet help. Ek het niks wat ek vir jou kan gee nie, nie koring of wyn of olyf-olie nie.”

28. Die koning vra toe vir die vrou: “Maar wat is jou probleem?”En sy het gesê: “Hierdie vrou het vir my gesê ek moet my seun gee sodat ons hom vandag kan eet, dan eet ons môre haar seun.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6