Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 11:9-19 Bybel vir Almal (ABA)

9. Die offisiere het alles gedoen wat die priester Jojada gesê het. Elke offisier het sy manne geneem, die manne wat op die Sabbatdag moet kom wagstaan en ook die manne wat klaar waggestaan het, en hulle het na die priester Jojada toe gekom.

10. Die priester het spiese en skilde vir die offisiere gegee. Dit het voorheen aan koning Dawid behoort en dit was in die tempel.

11. Al die wagte het met hulle wapens in hulle hande rondom die koning by die tempel gaan staan, van die suidekant van die tempel tot by die noordekant van die altaar.

12. Die priester het die prins uitgebring. Hy het die kroon op die prins se kop gesit en hy het vir hom ’n brief gegee. In die brief was geskryf dat hulle hom gekies en aangestel het om koning te wees. Hulle het hom gesalf en hom koning gemaak. Hulle het hande geklap en gesê: “Ons bid dat die koning lank sal lewe!”

13. Atalia het gehoor hoe skree die wagte en die ander mense. Hulle was by die tempel, en sy het na hulle toe gegaan.

14. En daar sien sy toe die koning staan by die pilaar waar konings altyd staan. Sy het ook gesien die amptenare en die mense wat die trompette blaas, is by hom, en sy het gehoor hoe al die belangrike mense van die land juig en trompette blaas. Atalia het haar klere geskeur en geskree: “Julle het my verraai! Julle het my verraai!”

15. Die priester Jojada sê toe vir die offisiere en vir die hoofde van die leër: “Vat haar uit buitetoe en maak die mense dood wat saam met haar gaan. Julle moet haar doodmaak, maar nie hier by die tempel nie.”

16. Hulle het Atalia gegryp en hulle het haar gevat na die hek waar die perde deurgaan na die paleis, en daar het hulle haar doodgemaak.

17. Jojada het ’n verbond gemaak tussen die Here en die koning en die volk. Hulle het belowe dat hulle ’n volk van die Here sal wees. Jojada het die verbond ook tussen die koning en die volk gemaak.

18. Al die belangrike mense van die land het toe na die Baäl-tempel gegaan en hulle het dit afgebreek. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan, en hulle het vir Mattan, die priester van Baäl, daar by die altare doodgeslaan.Jojada het wagte by die tempel laat bly,

19. en toe het hy die offisiere en die wagte wat die koning moes oppas en al die belangrike mense van die land saam met hom geneem. Hulle het die koning uit die tempel gebring en hulle het hom deur die Wag-poort van die paleis geneem. Hulle het hom op die troon laat sit.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 11