Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 2:17-30 Bybel vir Almal (ABA)

17. Die Here het gesien dat die seuns van Eli ’n baie groot sonde doen, want hulle het gemaak of die offer van die Here nie belangrik is nie.

18. Samuel het in die tempel gewerk en hy het ’n linne-skouer-kleed gedra.

19. Sy ma het elke jaar ’n klein oorkleed vir hom gemaak en sy het dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man kom offer het.

20. Eli het Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Jy en jou vrou het hierdie kind vir die Here geleen. Ek bid dat die Here vir julle nog kinders sal gee in sy plek.”Daarna het Elkana en sy huisgesin teruggegaan na sy huis.

21. En die Here was toe baie goed vir Hanna. Sy het weer swanger geword en sy het nog drie seuns en twee dogters gekry. Maar die seun Samuel het in die tempel grootgeword.

22. Eli was baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles gedoen het aan al die Israeliete, en ook dat hulle seks gehad het met die vroue wat gewerk het by die deur van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het.

23. Eli het vir sy seuns gesê: “Hoekom doen julle hierdie dinge? Ek hoor dat al hierdie mense sleg praat oor julle.

24. Nee, my seuns, ek hoor wat die volk van die Here oor julle sê, en dit is nie goeie dinge nie.

25. Wanneer ’n mens sonde doen teen ’n ander mens, dan kan die regters oordeel, maar wanneer ’n mens sonde doen teen God, wie moet dan oordeel?”Maar die seuns van Eli het nie geluister na hulle pa nie, want die Here wou hulle laat sterf.

26. Die seun Samuel het grootgeword, en die Here en die mense het gehou van Samuel.

27. ’n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “Die Here sê: Ek het vir jou voorvader se familie duidelik gewys wie Ek is. Dit was toe hulle in Egipte by die farao se huis was.

28. Ek het jou voorvader gekies uit al die Israeliete om my priester te wees. Ek het hom gekies om by my altaar te kom om die wierook-offer aan die brand te steek, en om die skouer-kleed te dra. Ek het vir sy familie al die vuur-offers gegee wat die Israeliete gebring het.

29. Hoekom maak jy nou of my offers en my presente nie belangrik is nie? Ek het gesê die Israeliete moet daardie offers en presente vir My bring. Hoekom respekteer jy jou seuns meer as vir My? Jy maak hulle vet met die beste van al die presente wat my volk Israel vir Mý bring.

30. “Omdat jy dit doen, sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het duidelik gesê jou nageslag en jou familie sal My altyd in die tempel dien, maar nou sê Ek dit sal nie meer so wees nie. Ek sal die mense eer wat My eer en Ek sal die mense verneder wat maak of Ek nie belangrik is nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 2