hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 16 Bybel vir Almal (ABA)

Samuel salf vir Dawid

1. Die Here het vir Samuel gesê: “Jy moenie aanhou huil en treur oor Saul nie. Ek het besluit hy sal nie meer koning wees oor Israel nie. Jy moet jou horing vol olyf-olie maak en gaan. Ek stuur jou na Isai toe in die stad Betlehem. Ek het gesien een van sy seuns kan die koning wees wat Ek wil hê.”

2. Samuel het gesê: “Ek kan nie gaan nie. As Saul dit hoor, dan sal hy my doodmaak.”Die Here het gesê: “Jy moet ’n jong koei saam met jou neem en jy moet sê jy het gekom om vir die Here te offer.

3. En dan moet jy vir Isai uitnooi na die offer. Ek sal dan vir jou sê wat jy moet doen. Jy moet die persoon salf wat Ek vir jou sê.”

4. Samuel het gedoen wat die Here gesê het. Toe hy in Betlehem kom, het die leiers van die stad hom kom ontmoet. Hulle was bang en hulle het gevra: “Kom jy om iets te doen wat goed is vir ons?”

5. Hy het gesê: “Ja, ek het gekom om vir die Here te offer. Julle moet julle reinig en julle moet saam met my kom offer.”Samuel het ook vir Isai en sy seuns gereinig en hy het hulle uitgenooi na die offer.

6. Toe hulle kom, en Samuel sien vir Eliab, het hy gedink: Ja, dit is die gesalfde wat hier voor die Here staan.

7. Maar die Here het vir Samuel gesê: “Jy moenie na Eliab se gesig kyk en kyk hoe lank hy is nie. Eliab is nie die man wat Ek gekies het nie, want die Here kyk nie na dieselfde dinge as mense nie. Mense kyk hoe iemand lyk, maar die Here kyk wat in iemand se hart is.”

8. Daarna het Isai vir Abinadab geroep en hy het hom voor Samuel laat verbyloop, maar Samuel het gesê: “Die Here het hom ook nie gekies nie.”

9. Isai het toe vir Samma laat verbyloop, maar Samuel het gesê: “Die Here het hom ook nie gekies nie.”

10. Isai het sy sewe seuns by Samuel laat verbyloop, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11. Samuel vra toe vir Isai: “Het jy nog ander seuns?”Isai het gesê: “Daar is nog een seun, hy is die jongste, maar hy pas die skape en bokke op.”Samuel het vir Isai gesê: “Jy moet hom laat kom, want ons sal nie begin eet voordat hy hier is nie.”

12. Isai het vir Dawid laat kom. Dawid het baie gesond gelyk. Hy het mooi oë gehad en hy kon goed sien. Die Here het gesê: “Jy moet opstaan en hom salf, want hy is die regte een.”

13. Samuel het die horing met die olyf-olie daarin geneem en hy het vir Dawid gesalf. Sy broers het dit gesien. Die Gees van die Here het van daardie dag af in Dawid gekom. Samuel het gereedgemaak en teruggegaan na Rama.

Dawid maak vir Saul musiek op die lier

14. Die Gees van die Here het weggegaan van Saul, en ’n bose gees wat van die Here gekom het, het vir Saul laat swaarkry.

15. Sy amptenare het vir hom gesê: “Ons sien dat ’n bose gees wat van God kom, jou laat swaarkry.

16. Koning, jy moet sê, dan sal ons iemand soek wat vir jou musiek kan maak op die lier. Wanneer die bose gees in jou kom, dan moet die persoon musiek maak op die lier, dan sal dit beter gaan met jou.”

17. Saul het vir sy amptenare gesê: “Goed. Kyk of julle iemand kan kry wat goed musiek kan maak, en bring hom na my toe.”

18. Een van die amptenare het toe gesê: “Ek het gesien een van Isai van Betlehem se seuns kan goed musiek maak op die lier. Hy is ’n belangrike man en hy kan goed oorlog maak en goed praat. Hy is mooi en die Here is by hom.”

19. Saul het toe boodskappers na Isai toe gestuur en gesê: “Jou seun Dawid is by die skape en bokke, jy moet hom na my toe stuur.”

20. Isai het brood en ’n velsak wyn op ’n donkie gelaai en hy het dit en ’n bok-lam saam met Dawid vir Saul gestuur.

21. Dawid het na Saul toe gekom en hy het vir Saul begin werk. Saul het baie lief geword vir Dawid, en Dawid het Saul se wapendraer geword.

22. Saul het vir Isai ’n boodskap gestuur en gevra: “Mag Dawid asseblief by my bly en vir my werk, want ek hou van hom.”

23. Elke maal wanneer die bose gees wat van God gekom het, in Saul gekom het, dan het Dawid die lier geneem en musiek gemaak. Dan het Saul rustig geword en beter gevoel, en die bose gees het weggegaan van hom.