Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:12-25 Bybel vir Almal (ABA)

12. Rehabeam het voorheen vir die mense gesê hulle moet ná drie dae terugkom. Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag teruggekom na Rehabeam toe,

13. en die koning het kwaai met hulle gepraat. Hy het nie geluister en gedoen wat die ouer leiers vir hom gesê het nie.

14. Hy het gedoen wat die jongmanne vir hom gesê het. Rehabeam het gesê: “My pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. Hy het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.”

15. Die koning het nie geluister na die volk nie, want die Here het dit so laat gebeur. Die Here wou doen wat Hy vir Jerobeam seun van Nebat gesê het toe Hy vir Agija van Silo gestuur het.

16. Toe al die mense van Israel sien die koning luister nie na hulle nie, het hulle vir die koning laat weet:“Ons is nie Dawid se familie nie,die seun van Isaiwas nie een van ons nie.Mense van Israel,gaan terug na julle tente!Dawid, nou moet jyjou eie huis oppas.”Die mense van Israel het toe teruggegaan na hulle tente.

17. Rehabeam was toe koning net van die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.

18. Adoram was die hoof van die mense wat vir die koning moes werk. Koning Rehabeam het vir Adoram gestuur na die mense van Israel toe, maar hulle het vir Adoram doodgegooi met klippe. Koning Rehabeam moes vinnig op sy oorlogkar klim en na Jerusalem vlug.

19. Dit is hoe die mense van Israel opstandig geword het teen die koningshuis van Dawid, en dit het so gebly tot nou toe.

20. Toe al die mense van Israel hoor dat Jerobeam teruggekom het, het hulle hom laat roep na die vergadering van die leiers en hulle het hom koning gemaak van al die mense van Israel. Niemand het by die koningshuis van Dawid gebly nie, net die mense van die Juda-stam het by Rehabeam gebly.

21. Rehabeam het na Jerusalem gekom en hy het al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam bymekaargeroep. Hulle was 180 000 soldate wat hy spesiaal gekies het. Rehabeam seun van Salomo wou oorlog maak teen die mense van Israel, hy wou probeer om die land terug te kry.

22. Maar God het vir Semaja, ’n man van God, gesê:

23. “Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met die hele Juda-stam en die Benjamin-stam en die ander mense. Jy moet vir hulle sê:

24. Die Here sê: Julle moenie gaan oorlog maak teen julle broers, die mense van Israel, nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.”Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan soos Hy gesê het.

25. Jerobeam het die stad Sigem in die Efraim-berge weer gebou en hy het daar gaan woon. Hy het later daar weggegaan en hy het die stad Pniël gaan bou.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12