Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 3:10-21 Bybel vir Almal (ABA)

10. Julle is nou nuwe mense. God het julle gemaak en Hy maak julle nuut sodat julle Hom kan ken en kan wees soos Hy is.

11. Julle is nie almal dieselfde nie, party van julle is Grieke en party is Jode, party is besny en party is nie besny nie, party is nie Grieke nie, party is mense wat glad nie belangrik is nie, party is slawe en party is nie slawe nie. Maar nou maak dit nie meer saak nie. Christus is die belangrikste en Hy is in julle harte.

12. God het julle gekies, julle behoort aan Hom en Hy is lief vir julle. Daarom moet julle goeie dinge doen. Julle moet regtig jammer wees vir ander mense en julle moet goed wees vir hulle. Julle moenie hoogmoedig wees nie, julle moet sagte harte hê, julle moenie gou kwaad word nie.

13. Julle moet geduldig wees met mekaar. As iemand iets verkeerd gedoen het, dan moet julle nie kwaad wees vir hom nie, julle moet hom vergewe. Die Here het julle vergewe, en so moet julle mekaar ook vergewe.

14. Die belangrikste is dat julle lief moet wees vir mekaar, want dan sal julle regtig aan mekaar behoort en heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees.

15. Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees.

16. Julle moet altyd dink aan die goeie boodskap oor Christus. Julle moet soos wyse mense vir mekaar leer en mekaar waarsku om nie verkeerde dinge te doen nie. Julle moet psalms en gesange en ander liedere sing om vir God dankie te sê.

17. Julle behoort aan die Here Jesus. Daarom, al die dinge wat julle sê en doen, moet dinge wees wat Hy wil hê, en julle moet vir God die Vader dankie sê. Ja, julle moet vir Christus vra om vir God te sê julle sê dankie.

18. Vroue, julle moet luister na julle mans. Dit is wat die Here wil hê.

19. Mans, julle moet lief wees vir julle vroue. Julle moenie vir hulle laat swaarkry nie.

20. Kinders, julle moet altyd gehoorsaam wees aan julle ouers, want die Here hou daarvan as julle luister na julle ouers.

21. Pa’s, julle moenie so kwaai met julle kinders wees dat hulle moedeloos word nie.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 3