Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:8-18 Bybel vir Almal (ABA)

8. Die ander dissipels het met die boot gekom en hulle het die visnet gesleep wat vol visse was. Dit was nie ver na die land nie, omtrent 200 el.

9. Die dissipels het uit die boot geklim. Hulle sien toe ’n vuur op die strand, en daar was vis op die kole. Daar was ook brood.

10. Jesus het vir hulle gesê: “Bring van die vis wat julle nou gevang het.”

11. Simon Petrus het in die boot geklim en hy het die visnet op die land getrek. Die visnet was vol groot visse, daar was 153 visse. Daar was baie visse in die net, maar die visnet het nie geskeur nie.

12. Jesus het vir hulle gesê: “Kom eet julle oggend-ete!”Die dissipels wou nie reguit vir Hom vra wie Hy is nie, hulle het geweet dit is die Here.

13. Jesus kom toe en Hy neem van die brood en gee dit vir hulle. Hy het ook vir hulle van die vis gegee.

14. Dit was die derde maal dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat God Hom weer laat lewe het.

15. Toe die dissipels klaar oggend-ete geëet het, sê Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My, meer as die ander dissipels?”Petrus het gesê: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!”Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy my skape laat wei, jy moet sorg vir my mense.”

16. Jesus het die tweede maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?”Petrus sê vir Hom: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!”Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy ’n herder wees vir my mense.”

17. Jesus het die derde maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?”Petrus het baie hartseer geword omdat Jesus die derde maal vir hom gevra het of hy lief is vir Hom. Hy sê toe vir Jesus: “Here, U weet alles! U weet Ek is lief vir U!”Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy sorg vir my mense.

18. Petrus, Ek sê vir jou, en dit is seker: Toe jy jonk was, het jy self jou klere vasgemaak en jy het gegaan waar jy wil. Maar jy sal oud word en jy sal jou hande uitsteek en iemand anders sal jou klere vasmaak en hy sal jou wegneem na ’n plek waar jy nie wil wees nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 21