hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Stede vir die Leviete

1. In die Moabsvlakte aan die Jordaan, regoor Jerigo, het die Here vir Moses gesê:

2. “Sê vir die Israeliete hulle moet in die gebiede wat hulle besit, vir die Leviete stede gee om in te woon, en ook weiveld rondom die stede.

3. Dan sal hulle stede hê om in te woon, en ook weivelde vir hulle beeste, hulle kleinvee en ander diere.

4. Julle moet 'n strook van ten minste vier honderd en vyftig meter wyd buite die stadsmuur vir die Leviete as weiveld gee.

5. Meet van die buitekant van die stad af aan die oostekant nege honderd meter, aan die suidekant nege honderd meter, aan die westekant nege honderd meter, en aan die noordekant nege honderd meter, met die stad in die middel. Dit sal hulle weiveld rondom die stede wees.

6. “Ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet asielstede wees waarheen iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, kan vlug. Afgesien hiervan moet julle vir die Leviete nog twee en veertig stede gee.

7. Julle moet vir hulle altesaam ag en veertig stede met hulle weivelde gee.

8. Die stede wat julle in die gebied van elke stam aan die Leviete gee, moet volgens die grootte van die gebied wees wat elke stam gekry het: meer stede van die groter stamme en minder van die kleiner stamme.”

Asielstede

9. Die Here het vir Moses gesê:

10. “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan na Kanaän toe trek,

11. moet julle stede aanwys wat asielstede vir julle kan wees waarheen 'n persoon kan vlug wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het.

12. Dit moet vir julle plekke wees waar julle veilig is teen die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene, sodat iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, nie hoef te sterf voordat hy sy saak voor die bevoegde vergadering gelê het nie.

13. Die ses stede wat julle gee, sal vir julle asielstede wees.

14. Julle moet drie asielstede oos van die Jordaan en drie in Kanaän beskikbaar stel.

15. Die ses stede moet plekke van asiel wees vir Israeliete sowel as vir vreemdelinge en ander uitlanders tussen julle, sodat elkeen wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug.

16. “As iemand 'n ander met 'n stuk yster slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

17. As iemand in sy hand 'n klip het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander daarmee dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

18. As iemand in sy hand 'n stuk hout het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

19. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

20. As iemand 'n ander uit haat stamp of hom doelbewus met iets gooi, sodat hy sterf

21. of hom uit vyandskap met die vuis slaan, sodat hy sterf, moet so iemand doodgemaak word; hy is 'n moordenaar. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

22. “Maar as iemand sonder opset en sonder vyandskap 'n ander stamp of hom per ongeluk raakgooi

23. of as iemand sonder dat hy kyk 'n klip gooi wat die dood kan veroorsaak, en dit 'n ander tref, sodat hy sterf, en hy wat gegooi het, het dit nie uit vyandskap of met verkeerde bedoelings gedoen nie,

24. moet die bevoegde vergadering volgens hierdie bepalings uitspraak lewer tussen hom wat die dood veroorsaak het en die bloedverwant wat die dood wil wreek.

25. Die vergadering moet die beskuldigde bevry uit die mag van die bloedverwant en hom terugstuur na die asielstad toe waarheen hy gevlug het. Dáár moet hy bly totdat die hoëpriester, die man wat met gewyde olie gesalf is, gesterf het.

26. Maar as die een wat die dood veroorsaak het, hom waag buite die gebied van die asielstad waarheen hy gevlug het,

27. en die bloedverwant wat die dood wil wreek, loop hom raak, mag die bloedverwant hom doodmaak sonder om skuldig te wees aan moord.

28. Die man wat die dood veroorsaak het, moet in die asielstad bly tot die dood van die hoëpriester, en eers ná die dood van die hoëpriester kan hy na sy eie grond toe teruggaan.

29. “Dit is 'n vaste voorskrif vir julle en vir julle nageslag, waar julle ook al mag woon.

30. Enigeen wat die dood van 'n ander veroorsaak, mag slegs as moordenaar doodgemaak word op grond van die getuienis van meer as een persoon. Een getuie is nie genoeg om iemand met die dood te straf nie.

31. Julle mag nie loskoopgeld aanneem vir die lewe van 'n moordenaar wat die dood skuldig is nie. Hy moet beslis doodgemaak word.

32. Julle mag ook nie loskoopgeld aanneem vir iemand wat na sy asielstad toe gevlug het en voor die dood van die hoëpriester na sy grond toe teruggekeer het nie.

33. Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is.

34. Julle moenie die land waarin julle bly en waar Ek teenwoordig is, onrein maak nie, want Ek, die Here, is teenwoordig by die Israeliete.”