hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die stamme oorkant die Jordaan

1. Die stamme Ruben en Gad het groot troppe vee besit. Hulle het gesien dat die Jaser- en Gileadstreke goeie veewêreld is,

2. en het toe vir Moses, die priester Eleasar en die volksleiers gaan sê:

3. “Die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon

4. wat deur die Here vir die volk Israel verower is, is goeie veewêreld, en ons het baie vee.

5. As u dit goedvind,” het hulle gesê, “gee dan hierdie gebied vir ons as besitting en moet ons nie verplig om deur die Jordaan te trek nie.”

6. Moses sê toe vir hulle: “Moet julle volksgenote gaan veg terwyl julle hier bly?

7. Waarom wil julle die ander Israeliete ontmoedig om na die land toe te trek wat die Here vir hulle gegee het?

8. So het julle voorvaders ook gemaak toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken.

9. Hulle het tot by Eskolspruit gegaan en die land verken, en toe die Israeliete ontmoedig, sodat hulle nie na die land toe wou gaan wat die Here vir hulle gegee het nie.

10-11. Dié dag het die Here baie kwaad geword omdat hulle Hom nie getrou gevolg het nie. Hy het met 'n eed verklaar dat die manne van twintig jaar en ouer wat uit Egipte getrek het, nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie.

12. Net Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua seun van Nun sal die land sien, want hulle het die Here getrou gevolg.

13. Die Here was baie kwaad vir Israel en het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag omgekom het wat in sy oë verkeerd gedoen het.

14. En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel.

15. As julle nou aan Hom ontrou is, sal Hy die hele volk nog langer in die woestyn laat bly en hulle tot niet laat gaan.”

16. Hulle het toe vir Moses gesê: “Ons sal hier krale bou vir ons kleinvee en stede vir ons gesinne,

17. maar ons sal dadelik ons wapens vat en aan die voorpunt van die Israeliete trek totdat ons hulle by hulle bestemming gebring het. Intussen kan ons gesinne in die versterkte stede woon en so sal hulle veilig wees teen die inwoners van die land.

18. Ons sal nie na ons huise toe terugkom voordat elke Israeliet sy besitting ontvang het nie.

19. Ons wil nie saam met hulle aan die westekant van die Jordaan ons besitting hê nie, ons wil ons besitting hier oos van die Jordaan hê.”

20. Toe het Moses vir hulle gesê: “Doen dit dan. Vat julle wapens en trek op voor die ark van die Here uit om te gaan veg.

21. Al julle gewapende manne moet deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek, totdat Hy sy vyande verslaan het.

22. Eers wanneer die Here die land onderwerp het, mag julle terugkom en sal julle vrygestel wees van julle verpligting teenoor die Here en teenoor Israel. Dan kan julle hierdie gebied uit die hand van die Here ontvang as julle besitting.

23. Maar as julle dit nie doen nie, sondig julle teen die Here en moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal.

24. Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het.”

25. Die mense van Gad en Ruben het toe vir Moses gesê: “Ons sal doen soos u gesê het.

26. Ons vrouens en kinders, ons kleinvee en ons beeste sal hier in die stede van Gilead bly,

27. maar al ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg soos u gesê het.”

28. Moses het toe vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel

29. gesê: “As die mense van Gad en Ruben, al hulle gewapende manne, saam met julle deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg, en die land aan julle onderwerp is, moet julle die Gileadgebied aan hulle as 'n besitting gee.

30. Maar as hulle gewapende manne nie saam met julle gaan nie, moet hulle tussen julle in Kanaän 'n besitting kry.”

31. Die mense van Gad en Ruben het toe geantwoord: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.

32. Ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek na Kanaän toe, maar ons besitting moet hier oos van die Jordaan wees.”

33. Moses het toe die koninkryk van koning Sihon van die Amoriete, en die koninkryk van koning Og van Basan, die hele streek met sy stede en die gebied daar rondom, aan die stamme Gad en Ruben en aan die halwe stam van Manasse seun van Josef gegee.

34. Die mense van Gad het Dibon, Atarot, Aroër,

35. Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha,

36. Bet-Nimra en Bet-Haram as vestingstede ingerig en ook krale vir hulle kleinvee gebou.

37. Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim,

38. Nebo, Baäl-Meon, waarvan die naam verander is, en Sibma. Hulle het die ander stede wat hulle herbou het, se name behou.

39. Die afstammelinge van Makir seun van Manasse het na Gilead toe gegaan, dit verower en die Amoriete wat daar was, uitgedryf.

40. Moses het Gilead toe aan die mense van Makir seun van Manasse gegee, en hulle het daar gaan woon.

41. Jaïr, ook 'n afstammeling van Manasse, het die tentdorpe gaan verower, en hulle tentdorpe van Jaïr genoem.

42. Nobag het Kenat en sy buitedorpe gaan verower, en die plek Nobag genoem, na homself.