hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 3 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die stam Levi

1. Toe die Here destyds met Moses op Sinaiberg gepraat het, het Aäron en Moses reeds afstammelinge gehad.

2. Die name van die seuns van Aäron was Nadab, die oudste, Abihu, Eleasar en Itamar.

3. Dit was die name van Aäron se seuns, gesalfde priesters, vir wie Moses in die priesteramp aangestel het.

4. Maar die Here het vir Nadab en Abihu laat sterwe omdat hulle in die Sinaiwoestyn ongeoorloofde vuur voor Hom neergesit het. Hulle het geen seuns gehad nie. Eleasar en Itamar het toe die priesterdiens verrig onder die toesig van Aäron, hulle pa.

5. Die Here het verder vir Moses gesê:

6. “Stel die stam Levi tot beskikking van die priester Aäron, dat hulle hom kan help.

7. Hulle moet vir Aäron in die gemeente diensbeurte waarneem in die tent van ontmoeting deur die werk wat hulle in die tabernakel doen.

8. Hulle moet sorg vir al die toebehore van die tent van ontmoeting; hulle moet die diensbeurte vir die volk Israel waarneem deur die werk wat hulle in die tabernakel doen.

9. Jy moet die Leviete tot beskikking van Aäron en sy seuns stel; uit die volk Israel is hulle die mense wat volkome aan Aäron se diens gewy is.

10. Net aan Aäron en sy seuns is dit opgedra om die priesterdiens te verrig; 'n onbevoegde persoon wat nader kom om dit te doen, moet doodgemaak word.”

11. Die Here het weer met Moses gepraat en gesê:

12. “Kyk, Ek het die Leviete uit die volk vir My geneem in die plek van al Israel se eersgeborenes; hulle behoort aan My.

13. Al die eersgeborenes is Myne: die dag toe Ek al die eersgeborenes van die Egiptenaars omgebring het, het Ek dié van Israel, van mens en dier, vir My opgeëis; hulle behoort aan My. Ek is die Here.”

14. Die Here het in die Sinaiwoestyn vir Moses gesê:

15. “Tel die Leviete volgens hulle afkoms en families, almal van 'n maand en ouer wat manlik is.”

16. Moses het hulle getel presies soos die Here hom beveel het.

17. Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari.

18. Die Gersongroep was Libni en Simi.

19. Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

20. Die Merarigroep was Magli en Musi. Dit was die afstammelinge van Levi volgens familieverband.

21. Die afstammelinge van Gerson was die familiegroepe Libni en Simi. Hulle was die Gersoniete.

22. Hulle manlike persone van 'n maand en ouer wat so getel is, was altesaam sewe duisend vyf honderd.

23. Die Gersongroep het aan die westekant agter die tabernakel kamp opgeslaan

24. met Eljasaf seun van Lael as leier.

25. Die taak van die Gersoniete by die tent van ontmoeting was die versorging van die tabernakel: die tent met sy dekseile, die gordyn by die deur van die tent van ontmoeting,

26. die gordyn van die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was, al die toue, met alles wat dié diens insluit.

27. Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Hulle was die Kehatiete.

28. Hulle manlike persone van 'n maand en ouer was altesaam ag duisend ses honderd. Hulle taak was om die heiligdom te versorg.

29. Die Kehatgroep het aan die suidekant van die tabernakel kamp opgeslaan

30. met Elisafan seun van Ussiël as leier.

31. Hulle taak was die versorging van die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, sowel as die voorhangsel, met alles wat dié diens insluit.

32. Eleasar seun van die priester Aäron was die leier van die familiehoofde van Levi, en as sodanig opsigter oor almal wat in die heiligdom diens doen.

33. Merari was die hoof van die familiegroepe Magli en Musi. Hulle was die Merariërs.

34. Hulle manlike persone van 'n maand en ouer wat so getel is, was altesaam ses duisend twee honderd.

35. Suriël seun van Abigajil was leier van die Merarigroep wat aan die noordekant van die tabernakel kamp opgeslaan het.

36. Die Merarigroep was verantwoordelik vir die versorging van die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel, en ook van al sy gereedskap, met alles wat dié diens insluit;

37. ook van die style rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue.

38. Moses, Aäron en Aäron se seuns het aan die oostekant voor die tabernakel, voor die tent van ontmoeting, kamp opgeslaan. Aäron en sy seuns het die diens van die tabernakel in belang van Israel waargeneem. 'n Onbevoegde persoon wat nader gekom het om te help, moes doodgemaak word.

39. Die manlike Leviete van 'n maand en ouer wat deur Moses en Aäron op bevel van die Here volgens families getel is, was altesaam twee en twintig duisend.

Die Leviete word geneem in die plek van die eersgeborenes

40. Die Here het ook vir Moses gesê: “Tel al die manlike eersgeborenes van die Israeliete van 'n maand en ouer, en maak 'n lys van hulle name.

41. In die plek van al die eersgeborenes uit Israel moet jy die Leviete vir my diens beskikbaar stel, en ook die Leviete se vee in die plek van al die eerstelinge onder die vee van die Israeliete. Ek is die Here.”

42. Moses het toe volgens die bevel van die Here al die eersgeborenes van die Israeliete getel.

43. Die manlike eersgeborenes van 'n maand en ouer wie se name opgeskryf is, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig.

44. Die Here het verder vir Moses gesê:

45. “Stel die Leviete beskikbaar vir my diens in die plek van al Israel se eersgeborenes; neem ook die Leviete se vee in die plek van die Israeliete s'n. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here.

46. Die twee honderd drie en sewentig eersgeborenes uit die Israeliete wat daar meer is as Leviete, moet losgekoop word.

47. Jy moet vyf silwerstukke per kop invorder; bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit elf gram per silwerstuk.

48. Die geld vir hierdie groter getal eersgeborenes van die Israeliete moet jy as losprys aan Aäron en sy seuns gee.”

49. Moses het toe die loskoopgeld ingevorder vir dié eersgeborenes wat daar meer was as dié wat reeds met Leviete losgekoop is.

50. Hierdie geld het hy geneem van die eersgebore Israeliete, vyftien en 'n half kilogram silwer.

51. Dit het Moses in opdrag van die Here aan Aäron en sy seuns gegee, soos die Here hom beveel het.