hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 8 Afrikaans 1983 (AFR83)

Versorging van die kandelaar

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Praat met Aäron en sê vir hom: As jy die lampies van die kandelaar vassit, moet hulle al sewe na die voorkant toe lig gee.”

3. Aäron het toe so gemaak soos die Here vir Moses beveel het, en die lampies aan die voorkant van die kandelaar vasgesit.

4. Die kandelaar is so gemaak: van die voetstuk af tot by die kroonblare is dit van geslae goud. Aäron het dit gemaak volgens die model wat die Here vir Moses gewys het.

Reiniging en wyding van die Leviete

5. Die Here het vir Moses gesê:

6. “Sonder die Leviete van die res van die Israeliete af en reinig hulle.

7. Jy moet hulle soos volg reinig: sprinkel reinigingswater oor hulle en laat hulle hulle hele liggaam kaalskeer en hulle klere was. So moet hulle hulleself reinig.

8. Dan moet hulle 'n jong bul vat, met die graanoffer van meel met olie gemeng wat daarby hoort; 'n tweede jong bul moet jy as sondeoffer vat.

9. Jy moet die Leviete dan nader bring voor die tent van ontmoeting en die hele gemeente van Israel daar bymekaar laat kom.

10. Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here, en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê.

11. Aäron moet dan die Leviete as 'n beweegoffer van die Israeliete aan My wy sodat hulle die werk in my diens kan verrig.

12. “Die Leviete moet hulle hande op die koppe van die twee bulle sit. Die een bul moet as sondeoffer en die ander as brandoffer vir My, die Here, berei word, om vir die Leviete versoening te doen.

13. Jy moet die Leviete in diens van Aäron en sy seuns stel en as 'n beweegoffer aan My wy.

14. Jy moet hulle van die res van die Israeliete afsonder dat hulle aan My kan behoort.

15. Nadat jy die Leviete gereinig en as beweegoffer aan My gewy het, moet hulle die diens in die tent van ontmoeting gaan behartig.

16. Van alle Israeliete behoort die Leviete in 'n besondere sin aan My, want Ek het hulle in die plek van al Israel se eersgebore seuns as my besondere eiendom vir My opgeëis.

17. Toe Ek al die eersgeborenes in Egipte getref het, het Ek die eersgeborenes van mens en dier in Israel vir My afgesonder.

18. Die Leviete het Ek toe in die plek van Israel se eersgebore seuns geneem.

19. Uit al die Israeliete gee Ek die Leviete nou as 'n gawe aan Aäron en sy seuns om namens die Israeliete die diens in die tent van ontmoeting te behartig en om vir hulle versoening te doen sodat geen ramp die Israeliete sal tref as hulle te naby aan die heiligdom kom nie.”

20. Moses, Aäron en die hele gemeente van Israel het toe met die Leviete presies gemaak soos die Here vir Moses in verband met hulle beveel het. So het die Israeliete met hulle gedoen.

21. Die Leviete het hulleself gereinig en hulle klere gewas, en Aäron het hulle as 'n beweegoffer aan die Here gewy. Aäron het ook vir hulle sondes versoening gedoen en hulle so gereinig.

22. Die Leviete het toe onder toesig van Aäron en sy seuns hulle ampswerk in die tent van ontmoeting gaan verrig, soos die Here vir Moses aangaande hulle beveel het. So het die Israeliete met die Leviete gedoen.

Die Leviete se dienstyd

23. Die Here het vir Moses gesê:

24. “Wat die Leviete betref, hulle moet vyf en twintig jaar of ouer wees voordat hulle hulle ampsplig in die tent van ontmoeting kan kom vervul.

25. As 'n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê en mag hy nie verder dien nie.

26. Hy mag sy mede-Leviete nog met hulle ampswerk in die tent van ontmoeting behulpsaam wees, maar self mag hy die diens nie behartig nie.“So moet jy die ampspligte van die Leviete reël.”