hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Water uit die rots

1. Die hele volk Israel het in die eerste maand in die Sinwoestyn aangekom en toe by Kades oorgebly. Mirjam is daar oorlede en is ook daar begrawe.

2-3. Omdat die volk geen drinkwater gehad het nie, het hulle saam teen Moses en Aäron rusie gemaak en gesê: “As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is!

4. Waarom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn toe gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe?

5. Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek en ons na hierdie ellendige plek toe gebring? Hierdie plek deug nie vir graan of vye, vir wingerde of granate nie, en daar is geen drinkwater nie.”

6. Moses en Aäron het weggedraai van die volk af, en toe hulle by die ingang van die tent van ontmoeting kom, het hulle op hulle knieë geval terwyl die magtige teenwoordigheid van die Here vir hulle sigbaar word.

7. Die Here sê toe vir Moses:

8. “Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.”

9. Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het

10. en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”

11. Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink.

12. Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.”

13. Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.

Edom weier deurtog aan Israel

14. Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur met die versoek: “So sê u broer Israel: U is bewus van al die probleme waarmee ons te kampe gehad het.

15. Ons voorvaders het na Egipte toe getrek en daar het ons baie lank gebly. Die Egiptenaars het ons voorvaders én vir ons sleg behandel.

16. Ons het na die Here om hulp geroep en Hy het ons gebed verhoor, 'n engel gestuur en ons uit Egipte laat trek. Ons is nou in Kades, 'n stad aan die grens van u gebied.

17. Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die lande of die wingerde trek nie en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal op die Koningspad bly en nie links of regs afdraai totdat ons deur u gebied is nie.”

18. Die koning van Edom het egter geantwoord: “Jy mag nie deur my gebied trek nie, want dan trek ek jou met die swaard tegemoet.”

19. Die Israeliete het weer vir hom laat weet: “Ons sal op die grootpad bly, en as ons, ons en ons vee, van u water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil net te voet deurtrek, verder niks nie.”

20. Die koning van Edom het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Die Edomiete het toe met 'n groot, magtige leër teen die Israeliete opgetrek.

21. So het Edom geweier om Israel deur sy gebied te laat trek, en Israel moes van Edom af wegdraai.

Die dood van Aäron

22. Die hele volk Israel het van Kades af versit en by Horberg aangekom.

23. By Horberg, vlak by die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

24. “Die tyd het gekom dat Aäron moet sterf. Hy sal nie in die land kom wat Ek aan die Israeliete gee nie, omdat julle twee julle verset het teen my bevel by die Meribawaters.

25. Vat vir Aäron en sy seun Eleasar saam en gaan na Horberg toe.

26. Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek. Aäron sal daar sterwe.”

27. Moses het gedoen wat die Here beveel het: voor die oë van die hele volk het hulle Horberg uitgeklim.

28. Daar het Moses Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek, en Aäron is daar op die top van die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar afgekom van die berg af.

29. Toe die hele volk Israel verneem dat Aäron dood is, het hulle almal oor hom getreur, dertig dae lank.