Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:3-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar.

4. Koning Josia het aan die hoëpriester Gilkija, aan die priesters net onder hom en aan die drumpelwagte opdrag gegee om uit die tempel van die Here al die goed te bring wat vir Baäl en Asjera en al die hemelliggame gemaak is. Hulle moes dit verbrand buite Jerusalem op die gelyktes langs die Kedron en die as na Bet-El toe vat.

5. Josia het die afgodspriesters afgesit wat deur die konings van Juda aangestel is en wat offers gebring het op die hoogtes, in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hy het ook 'n einde gemaak aan dié wat geoffer het vir Baäl en vir die son en die maan en die diereriem en al die ander hemelliggame.

6. Hy het die Asjera uit die huis van die Here laat bring na die Kedronspruit toe buite Jerusalem, dit daar laat verbrand en laat fynstamp. Die as het hy laat weggooi op die grafte van die gewone mense.

7. Hy het die manlike prostitute se kamers by die huis van die Here laat afbreek waarin die vroue klere geweef het vir die diens van Asjera.

8. Verder het Josia al die priesters uit die stede van Juda laat bring en die hoogtes waarop die priesters geoffer het, laat ontwy, van Geba af tot by Berseba. Hy het die hoogtes wat by die poorte was, laat afbreek, ook die een by die poort van die stadsbevelvoerder Josua, aan die linkerkant as 'n mens die stadspoort binnegaan.

9. Josia het nie die priesters wat by die hoogtes geoffer het, by die altaar van die Here in Jerusalem laat kom nie, maar hulle kon saam met hulle ampsgenote ongesuurde brood eet.

10. Hy het die offerplek wat in die Ben-Hinnomdal was, laat ontwy, sodat niemand meer sy seun of dogter as offer vir Molek kon verbrand nie.

11. Die perdebeelde wat deur die konings van Juda ter verering van die son opgestel is, het hy laat verwyder. Hulle het gestaan by die ingang van die huis van die Here, by die kamer van die amptenaar Netan-Melek aan die binneplein. Die sonwa het hy laat verbrand.

12. Die altare wat deur die konings van Juda gebou is op die dak van die bovertrek van Agas, en die altare wat deur Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gebou is, is deur die koning afgebreek. Hy het hulle net daar laat stukkend slaan en die puin laat weggooi in die Kedronvallei.

13. Verder het die koning die hoogtes laat ontwy wat oos van Jerusalem, suid van die berg van verwoesting, was en wat deur koning Salomo van Israel opgerig is vir die verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, Kemos, die veragtelike god van Moab, en Milkom die afskuwelike god van die Ammoniete.

14. Hy het die klippilare laat stukkend slaan, die gewyde pale laat afkap en op hulle plekke mensbene laat gooi.

15. Selfs die altaar in Bet-El, die hoogte wat deur Jerobeam seun van Nebat ingerig is toe hy vir Israel laat sondig het, selfs dié altaar en dié hoogte is deur Josia laat afbreek. Hy het die hoogte laat afbrand en fynslaan en die Asjera laat verbrand.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23