Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:4-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem.

5. Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie.

6. Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het.

7. Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het.Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie.

8. Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom.

9. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia, die sewende regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het koning Salmaneser van Assirië teen Samaria opgetrek en die stad beleër.

10. Hy het die stad na drie jaar ingeneem, in die sesde regeringsjaar van Hiskia. In die negende regeringsjaar van koning Hosea van Israel is Samaria verower.

11. Die koning van Assirië het die inwoners van Israel as gevangenes na Assirië toe weggevoer en hulle hervestig in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië.

12. Dit was omdat die inwoners van Israel nie gehoorsaam was aan die Here hulle God nie. Hulle het die verbondsverpligtinge wat die Here op hulle gelê het, alles wat Moses die dienaar van die Here hulle beveel het, oortree. Hulle was ongehoorsaam en het die bevele nie uitgevoer nie.

13. In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower.

14. Koning Hiskia van Juda het toe vir die koning van Assirië in Lakis laat weet: “Ek het verkeerd gedoen. Trek u manskappe terug, ek sal betaal wat u vra.”Die Assiriese koning het koning Hiskia van Juda toe beboet met iets meer as tien ton silwer en een ton goud.

15. Hiskia moes al die silwer wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, afgee.

16. Terselfdertyd moes hy die goudbeslag wat hy self laat aanbring het, van die deure van die tempel van die Here en van die deurposte afstroop om die koning van Assirië te betaal.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18