hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 2 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die boodskap aan Efese

1. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese:So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan:

2. Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is.

3. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.

4. Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.

5. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!

6. Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.

7. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.

Die boodskap aan Smirna

8. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna:So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het:

9. Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.

10. Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

11. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.

Die boodskap aan Pergamum

12. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum:So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:

13. Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie.

14. Maar Ek het 'n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het.

15. So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.

16. Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond.

17. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.

Die boodskap aan Tiatira

18. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira:So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is:

19. Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore.

20. Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet.

21. Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie.

22. Kyk, Ek gee haar aan 'n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding — as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie.

23. Haar volgelinge sal Ek deur 'n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.

24. Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan” soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie;

25. hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.

26. Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee.

27. Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan.

28. Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee.

29. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.