hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 8 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die sewende seël word oopgemaak

1. Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent 'n halfuur lank.

2. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee.

3. 'n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met 'n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer.

4. Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.

5. Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en 'n aardbewing gekom.

Die eerste vier trompette

6. Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas.

7. Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. 'n Derde van die aarde is verbrand, 'n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand.

8. Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos 'n groot berg wat brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword,

9. 'n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en 'n derde van die skepe het vergaan.

10. Toe het die derde engel op sy trompet geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand, het van die hemel af geval. Hy het op 'n derde van die riviere en op die waterbronne geval.

11. Die ster se naam is Bitterals. 'n Derde van die water het bitter geword, en baie mense het van die water doodgegaan omdat dit besmet was.

12. Die vierde engel het toe op sy trompet geblaas. 'n Derde van die son en 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre is getref, sodat 'n derde van hulle donker geword het. 'n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie.

13. Toe het ek 'n arend hoog in die lug sien vlieg, en ek het hom met 'n harde stem hoor skreeu: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde wanneer die ander drie engele op hulle trompette gaan blaas.”