hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die sedelose vrou

1. Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou wys hoe die oordeel voltrek word oor die berugte sedelose vrou wat by baie waters bly

2. en met wie die konings van die aarde onsedelik verkeer het. Die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar onsedelikheid.”

3. Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na die woestyn toe geneem. Daar het ek 'n vrou gesien wat op 'n helderrooi dier sit. Die dier was oortrek met godslasterlike name en het sewe koppe en tien horings gehad.

4. Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy 'n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid.

5. Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het 'n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.”

6. En ek het gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die gelowiges, van die bloed van die mense wat vir Jesus getuig het.Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder.

Die betekenis van die dier

7. Die engel sê toe vir my: “Waarom verwonder jy jou? Ek sal jou vertel wat die verborge betekenis is van die vrou en van die dier wat haar dra, wat die sewe koppe en die tien horings het.

8. “Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie. Hy gaan uit die onderaardse diepte uit kom en gaan na die verderf toe. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees.

9. “Hier is verstand en wysheid nodig. Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Verder is hulle ook sewe konings.

10. Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort rukkie bly.

11. Die dier wat eers was en nie nou is nie, is self die agste. Hy hoort by die sewe en gaan na die verderf toe.

12. “Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings.

13. Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking.

14. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”

Die ondergang van die sedelose vrou

15. Verder het hy vir my gesê: “Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale.

16. “Die tien horings wat jy gesien het, en die dier, hulle sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand.

17. God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het.

18. “Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde uitoefen.”