hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die eerste vier seëls word oopgemaak

1. Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die knal van 'n donderslag: “Gaan uit!”

2. Ek het gesien: daar was 'n wit perd. Sy ruiter het 'n pyl en boog gehad. 'n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin.

3. Toe Hy die tweede seël oopmaak, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Gaan uit!”

4. Daar het 'n ander perd, 'n vuurrooie, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor. 'n Groot swaard is aan hom gegee.

5. Toe Hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!”Ek het gesien: daar was 'n swart perd. Sy ruiter het 'n skaal in sy hand gehad.

6. Toe het ek iets soos 'n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir 'n dagloon en net drie skeppies gars vir 'n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.”

7. Toe Hy die vierde seël oopmaak, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!”

8. Ek het gesien: daar was 'n vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood, en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor 'n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.

Die vyfde seël word oopgemaak

9. Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het.

10. Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?”

11. Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog 'n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.

Die sesde seël word oopgemaak

12. Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het 'n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword.

13. Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van 'n vyeboom afval as dit deur 'n sterk wind geruk word.

14. Die hemel self het verdwyn soos 'n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud.

15. Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip.

16. Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam.

17. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”