Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 8:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Hy het ook vir hulle gesê: “Gaan eet ’n lekker maaltyd en drink soet drankies. Deel ook van die kos met mense wat niks voorberei het nie. Hierdie is ’n dag wat aan ons God toegewy is. Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!”

11. Die Leviete het die volk ook ge-troos en vir hulle gesê: “Wees stil! Moenie huil nie! Hierdie dag is spesiaal, dit is aan die Here toegewy.”

12. Die mense het toe weggegaan om ’n feesmaal te eet en te drink en hulle kos met ander mense te deel. Hulle het goed verstaan wat voorgelees is. Dit het hulle baie bly gemaak.

13. Op 9 Oktober het die familieleiers, die priesters en die Leviete by Esra bymekaargekom om die wetboek verder te bespreek.

14. In hulle bestudering van die voorskrifte het hulle ontdek dat die here deur Moses die Israeliete beveel het om gedurende die fees wat hulle in dié maand vier, in hutte te bly.

15. Hy het gesê dat hulle in al die dorpe en veral in Jerusalem die volgende boodskap moet aankondig: “Gaan haal olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en vyeboomtakke in die heuwels. Maak hutte daarvan soos vir julle voorgeskryf is.”

16. Die mense het toe uitgegaan en die takke gaan sny. Hulle het die takke gebruik om op die platdakke van hulle huise of in die binnehowe van hulle huise hutte te maak. Ander het hutte in die binneplein van die tempel gemaak of op die pleine by die Waterpoort en die Efraimspoort.

17. Almal wat uit gevangenskap teruggekeer het, het vir die sewe dae van die fees in hierdie hutte gebly. Hulle het laas in die tyd van Josua die seun van Nun so fees gevier. Daar was groot blydskap onder hulle!

18. Esra het elke dag, vir sewe dae lank, uit die Wetboek van God voorgelees. Sewe dae lank het hulle so feesgevier. Op 15 Oktober, die agtste dag van die fees, het hulle, soos voorgeskryf, ’n plegtige byeenkoms gehou.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 8