Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:13-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Dit moet saam met ’n graanoffer gebring word. Dit sal bestaan uit drie kilogram meel gemeng met olyfolie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Saam met die offer moet julle ook een liter wyn as ’n drankoffer offer.

14. Op dié dag mag julle nie brood of geroosterde of rou graan eet voordat julle eers die offer vir julle God gebring het nie. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.”

15. “Vanaf die dag ná die Sabbat, die dag waarop die gerf are opgelig is as ’n offer, moet julle sewe weke aftel.

16. Hou aan tel tot die dag ná die sewende Sabbat, dit wil sê, 50 dae later, en bring dan ’n offer van graan wat pas geoes is vir die Here.

17. Bring van julle blyplekke af twee brode saam sodat dit as ’n offer in die teenwoordigheid van die Here opgelig kan word. Hierdie brode moet gebak word van drie kilogram meel wat suurdeeg bevat. Dit sal ’n offer vir die Here wees uit die eerste opbrengs van julle oes.

18. Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder enige liggaamsgebrek, een bul en twee ramme as brandoffers vir die Here bring. Hierdie brandoffers saam met die graanoffers en die drankoffers sal as ’n vuuroffer vir die Here gebring word en sal aangenaam vir Hom wees.

19. Dan moet julle ook een bokram as ’n sonde-offer en twee jaaroud skaapramme as ’n maaltydoffer bring.

20. “Die priester sal hierdie offers in die teenwoordigheid van die Here oplig, saam met die brode wat die eerste opbrengs van julle oes verteenwoordig. Hierdie offers is heilig vir die Here en behoort aan die priesters.

21. Daardie selfde dag moet julle ophou met werk en vir ’n heilige byeenkoms vergader. Dit is ’n permanente reël vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.

22. “Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kante van die lande afoes nie. Moet ook nie alles optel wat die mense wat oes, laat val het nie. Los dit vir die armes en vir die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die Here, is julle God.”

23. Die Here het vir Moses beveel

24. om hierdie instruksies vir die Israeliete te gee: “Op die eerste dag van die sewende maand in die vroegherfs moet julle ’n dag van rus vier. Alle werk moet op dié dag tot stilstand kom. Die volk word met die harde geblaas van ’n trompet opgeroep tot ’n heilige byeenkoms, die Fees van die Trompette.

25. Julle mag geen werk doen op dié dag nie. Julle moet eerder vuuroffers vir die Here bring.”

26. Toe het die Here vir Moses gesê:

27. “Onthou om die Dag van Versoening te vier op die negende dag ná die Fees van die Trompette. Op dié dag moet julle julleself verootmoedig, ’n heilige byeenkoms hou en vuuroffers vir die Here bring.

28. Julle mag die hele dag lank nie werk nie, want dit is die Dag van Versoening wanneer daar vir julle voor die Here julle God versoening gedoen word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23