hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sprinkane val die land binne

1. Blaas op die trompet in Jerusalem! Maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land bewe van vrees, want die Dag van die Here kom en is naby.

2. Dit is ’n dag van duisternis en donkerte, ’n dag met dik wolke en intense donkerte. ’n Magtige leër verskyn skielik oor die heuwels soos die lig van die dagbreek! Hoe geweldig groot en magtig is hulle nie! Niemand het nog ooit so iets gesien nie, en niemand sal ooit weer so iets sien nie.

3. Voor die leër brand vuur en agter volg ’n brandende vlam. Voor hulle lê die land soos die Tuin van Eden, maar agter die leër is ’n verlate verwoesting gelaat. Niks kan hulle ontsnap nie.

4. Hulle lyk soos perde en hulle galop soos oorlogsperde.

5. Hulle klink soos strydwaens wat oor die heuweltoppe voortdreun! Hulle raas soos vuur wat ’n grasveld verteer of soos ’n magtige leër wat gereed is om oorlog te maak.

6. Angs oorweldig die mense; hulle gesigte is bleek van vrees.

7. Die dapper soldate storm vorentoe, soos opgeleide manskappe klim hulle oor die mure. Hulle marsjeer doelgerig vorentoe, niks laat hulle van hulle koers afwyk nie.

8. Hulle stamp nooit teen mekaar nie, elkeen bly op sy regte plek. Hulle bars deur die verdediging, geen wapen kan hulle stop nie.

9. Hulle oorval die stad en hardloop op die mure. Hulle val die huise binne, en klim soos diewe deur vensters.

10. Soos hulle voortbeweeg, skud die aarde en bewe die hemel. Die son en die maan verdonker en die sterre skyn nie meer nie.

11. Die Here roep hard uit terwyl Hy hulle lei. Hulle is sy magtige leër en gehoorsaam sy bevele. Die Dag van die Here is iets angswekkends, iets verskrikliks. Wie kan dit oorleef?

Kom terug na My toe!

12. Maar nou sê die Here: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur!

13. Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die Here julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie.

14. Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die Here julle God kan offer!

15. Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom.

16. Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die Here. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer.

17. Die priesters wat in diens is van die Here moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “Here, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”

’n Belofte van herstel

18. Dan sal die Here wys dat Hy omgee vir sy land en Hy sal sy volk jammer kry.

19. Hy sal hulle antwoord en sê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring, wyn en olyfolie. Dit sal aan julle behoeftes voldoen. Julle sal nie langer ’n voorwerp van spot onder die nasies wees nie.

20. Ek sal hierdie leërs uit die noorde verwyder en hulle ver weg stuur. Ek sal hulle verdryf na ’n droë en onherbergsame land toe. Dié op die voorhoede sal in die Dooie See beland, en dié op die agterhoede in die Middellandse See. Die stank van hulle lyke sal oor die land versprei.” Die Here het inderdaad groot dinge gedoen!

21. Julle moenie bang wees nie, my volk! Wees bly en verheug julle, want die Here het groot dinge gedoen!

22. Moenie bang wees nie, diere van die veld! Binnekort sal die weiding groen wees. Die bome sal weer vol vrugte wees. Die vyebome en wingerde sal weer volop vrugte dra.

23. Wees bly, inwoners van Jerusalem! Juig oor die Here julle God! Die reën wat Hy stuur, is ’n bewys van sy genade. Die herfsreëns en die lentereëns sal weer oorvloedig wees soos voorheen.

24. Daar sal weer hope koring op die dorsvloere wees. Die parskuipe sal oorloop van wyn en olyfolie.

25. Die Here sê: “Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane, die snysprinkane, die swermsprinkane en die jong sprinkane verloor het. Ek het hierdie groot, vernietigende leër teen julle gestuur.

26. “Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die Here julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak. My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.

27. Julle sal weet dat Ek onder my volk Israel teenwoordig is. Net Ek is die Here julle God, niemand anders nie! My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.”

Die Here beloof sy Gees

28. “Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien.

29. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort.

30. “Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme.

31. Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die Here aanbreek.

32. “Enige persoon wat tot die Here bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg en in Jerusalem wees, net soos die Here gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die Here geroep het.”