Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Hy het gesê:

2. “Kry ’n notaboek en skryf al die boodskappe neer wat Ek vir jou oor Israel, Juda en die ander nasies gegee het. Begin so ver terug as die tyd van koning Josia toe Ek die eerste boodskap vir jou gegee het tot dié wat Ek nou vir jou gee.

3. Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerd te doen as hulle al die slegte dinge hoor wat Ek vir hulle beplan. Dan sal Ek hulle oortredings en sondes kan vergewe.”

4. Jeremia het toe vir Baruk seun van Nerija laat roep. Baruk het al die boodskappe van die Here wat Jeremia vir hom hardop voorgedra het, op ’n boekrol neergeskryf.

5. Jeremia het toe vir Baruk gesê: “Ek mag nie naby die tempel kom nie.

6. Maar gaan jy op die volgende vasdag na die tempel toe en lees daar die boodskappe van die Here wat hier geskryf staan vir die volk. Lees dit sodat ook al die mense uit die verskillende dorpe in Juda dit kan hoor.

7. Miskien sal hulle die Here om genade smeek en ophou om so sleg te lewe. Die Here is baie kwaad. Hy het oordeel oor hierdie volk aangekondig.”

8. Baruk seun van Nerija het alles gedoen wat Jeremia hom beveel het. Hy het die boodskappe van die Here wat geskryf was vir die mense by die tempel voorgelees.

9. In die vyfde jaar wat Jojakim koning van Juda was, in die laatherfs, is ’n vasdag vir die Here aangekondig. Al die mense het uit die dorpe in Juda en Jerusalem gekom om hierdie dag by die tempel by te woon.

10. Baruk het Jeremia se boodskappe uit die boekrol in die tempel vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja seun van Safan die sekretaris se kantoor toe hy dit gedoen het. Hierdie kamer was in die boonste voorhof, naby die Nuwe Ingang van die tempel.

11. Miga seun van Gemarja en kleinseun van Safan het ook die boodskappe van die Here uit die boekrol gehoor.

12. Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en ook nog ander van die amptenare.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36