Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 9:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar, het die twee proklamasies van die koning van krag geword. Dit was die dag waarop die vyande van die Jode gereken het om hulle te oorweldig. Dit het egter net andersom gebeur, want die Jode het die mense wat hulle haat, oorweldig.

2. Die Jode het oral in die stede waar hulle gewoon het en in al die provinsies van koning Ahasveros bymekaargekom om hulleself te verdedig teen almal wat hulle wou aanval. Niemand was teen hulle opgewasse nie, want al die volke was bang vir hulle.

3. Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning, het die Jode gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.

4. Mordegai het opgang gemaak in die koning se hofhouding. Hy het in al die provinsies bekend geword. Hy het al hoe groter mag gekry.

5. Die Jode het hulle vyande met die swaard oorweldig. Hulle het onder hulle vyande gemaai.

6. In die hoofstad Susan het die Jode 500 mense doodgemaak.

7. Hulle het ook die tien seuns van Haman die seun van Hammedata, Parsandata, Dalfon, Aspata,

8. Porata, Adalja, Aridata,

9. Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata,

10. die vyande van die Jode, doodgemaak. Hulle het nie oorlogsbuit van hulle gevat nie.

11. Teen die aand van daardie dag het die koning gehoor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.

12. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode 500 mense doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle in die ander provinsies van my ryk reggekry het! Is daar nog iets meer wat jy wil hê? Jy sal dit kry. Is daar iets waarna jy nog soek? Dit sal vir jou gedoen word.”

13. Ester sê toe: “As dit vir die koning in orde is, laat dan die Jode in Susan toe om môre aan te gaan waarmee hulle vandag besig was. Laat ook die lyke van die tien seuns van Haman aan hulle pa se galg opgehang word.”

14. Die koning het ingestem dat dit mag gebeur. Hy het so ’n proklamasie in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is aan sy galg opgehang.

15. Die Jode wat in Susan bly, het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog ’n verdere 300 mense doodgemaak. Hulle het nog steeds nie hulle eiendom as buit gevat nie.

16. Die ander Jode in die provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het die juk van hulle vyand afgeskud en van hulle haters 75 000 mense doodgemaak. Hulle het egter niks wat aan hulle vyand behoort het, vir hulleself as oorlogsbuit gevat nie.

Lees volledige hoofstuk Ester 9