hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Bedreiging word oorwinning

1. Op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar, het die twee proklamasies van die koning van krag geword. Dit was die dag waarop die vyande van die Jode gereken het om hulle te oorweldig. Dit het egter net andersom gebeur, want die Jode het die mense wat hulle haat, oorweldig.

2. Die Jode het oral in die stede waar hulle gewoon het en in al die provinsies van koning Ahasveros bymekaargekom om hulleself te verdedig teen almal wat hulle wou aanval. Niemand was teen hulle opgewasse nie, want al die volke was bang vir hulle.

3. Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning, het die Jode gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.

4. Mordegai het opgang gemaak in die koning se hofhouding. Hy het in al die provinsies bekend geword. Hy het al hoe groter mag gekry.

5. Die Jode het hulle vyande met die swaard oorweldig. Hulle het onder hulle vyande gemaai.

6. In die hoofstad Susan het die Jode 500 mense doodgemaak.

7. Hulle het ook die tien seuns van Haman die seun van Hammedata, Parsandata, Dalfon, Aspata,

8. Porata, Adalja, Aridata,

9. Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata,

10. die vyande van die Jode, doodgemaak. Hulle het nie oorlogsbuit van hulle gevat nie.

11. Teen die aand van daardie dag het die koning gehoor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.

12. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode 500 mense doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle in die ander provinsies van my ryk reggekry het! Is daar nog iets meer wat jy wil hê? Jy sal dit kry. Is daar iets waarna jy nog soek? Dit sal vir jou gedoen word.”

13. Ester sê toe: “As dit vir die koning in orde is, laat dan die Jode in Susan toe om môre aan te gaan waarmee hulle vandag besig was. Laat ook die lyke van die tien seuns van Haman aan hulle pa se galg opgehang word.”

14. Die koning het ingestem dat dit mag gebeur. Hy het so ’n proklamasie in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is aan sy galg opgehang.

15. Die Jode wat in Susan bly, het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog ’n verdere 300 mense doodgemaak. Hulle het nog steeds nie hulle eiendom as buit gevat nie.

16. Die ander Jode in die provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het die juk van hulle vyand afgeskud en van hulle haters 75 000 mense doodgemaak. Hulle het egter niks wat aan hulle vyand behoort het, vir hulleself as oorlogsbuit gevat nie.

17. Dit was op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag van die maand het hulle gerus. Hulle het daarvan ’n dag gemaak waarop hulle feesmaaltye gemaak het en hulle oorwinning gevier het.

18. Die Jode wat in Susan gebly het, het op sowel die dertiende asook die veertiende dag bymekaargekom om te veg. Hulle het eers op die vyftiende van die maand tot rus gekom en daarvan ’n dag van feesviering en vreugde gemaak.

19. Dit is hoekom die Jode wat op die platteland en in klein dorpies sonder veiligheidsmure woon, op die veertiende van die maand Adar ’n jaarlikse vakansiedag van vreugde en feesviering hou waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.

20. Mordegai het laat opteken wat gebeur het. Hy het briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, aan dié wat naby bly en dié wat ver is.

21. Hy het die Jode opdrag gegee om elke jaar op die veertiende en die vyftiende van die maand Adar fees te vier.

22. Hulle moet op daardie dae feesvier en bly wees en vir mekaar eetgoed stuur en geskenke vir die arm mense gee. Hulle moet dit in herinnering roep as die dae waarop die Jode van hulle vyande bevry is. Hulle vrees is in blydskap verander en hulle droefheid in feesviering.

23. Die Jode het die opdrag in Mordegai se brief aanvaar en dit as ’n vaste instelling begin vier.

24. Haman, die seun van Hammedata die Agagiet en vyand van die Jode, het planne gemaak om die Jode uit te roei. Hy het met die Pur, dit is die lot, beslis watter dag hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei.

25. Toe Ester egter na die koning gegaan het, het hy ’n brief laat skryf om Haman se bose plan teen die Jode op sy eie kop te laat neerkom. Hy en sy seuns is aan hulle eie galg opgehang.

26. Dit is hoekom hierdie feesdae Purim genoem word, in aansluiting by die woord Pur. Na aanleiding van alles wat Mordegai in daardie brief geskryf het en alles wat hulle gesien en belewe het,

27. het die Jode hulleself en hulle nageslag onherroeplik daartoe verbind om nooit na te laat om elke jaar hierdie twee dae te vier nie. Dit moes elke jaar op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd gebeur.

28. Hierdie dae moes deur elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad herdenk en onderhou word. Hierdie dae van die Purim mag nooit in die Joodse gemeenskap oorgeslaan word nie. Hulle nageslag mag nooit daarvan vergeet nie.

29. Koningin Ester, die dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het saam en met hulle volle gesag ’n tweede brief geskryf om die reëlings oor die Purim te bevestig.

30. Mordegai het afskrifte van die brief aan al die Jode in die 127 provinsies van koning Ahasveros gestuur om hulle heil en voorspoed toe te wens.

31. Die briewe het hulle beveel om die dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle en hulle nakomelinge hulle daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep.

32. Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in ’n boek opgeskryf.