Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:10-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die Here julle God het julle so baie soos die sterre gemaak.

11. Mag die Here, die God van julle voorouers, julle selfs duisend keer meer laat word. Mag Hy julle seën soos wat Hy beloof het.

12. Hoe sou ek alleen al julle twis en probleme kan oplos?

13. Kies uit julle stamme mans met wysheid, begrip en aansien en ek sal hulle as julle leiers aanstel.’

14. “Julle het saamgestem dat my plan ’n goeie een was.

15. Ek het toe die wyse en gerespekteerde mans wat julle uit julle stamme gekies het, aangestel om julle as regters en amptenare te dien. Sommige was verantwoordelik vir 1 000 mense, ander vir 100, ander weer vir 50 en sommige vir tien.

16. Ek het hulle wat as regters optree, beveel: ‘Julle moet te alle tye regverdig wees, nie net teenoor mede-Israeliete nie, maar ook teenoor die vreemdelinge wat tussen julle woon.

17. Wanneer julle uitsprake lewer, moenie die ryk mense bevoordeel nie. Wees ewe regverdig teenoor belangrike en onbelangrike mense. Moenie bang wees oor hoe hulle sal reageer nie, want julle tree namens God as regters op. Bring die sake wat vir julle te moeilik is na my toe, ek sal dit self hanteer.’

18. Toe het ek julle alreeds alles beveel wat julle moet doen.”

19. “Ons is toe weg van Sinaiberg af en het deur die groot en skrikwekkende woestyn getrek, wat julle self gesien het. Van daar het ons na die bergwêreld van die Amoriete toe getrek – dit alles net soos wat die Here ons God ons beveel het. Toe ons by Kades-Barnea kom,

20. het ek vir julle gesê: ‘Nou het ons die heuwelgebied van die Amoriete bereik wat die Here ons God aan ons gegee het.

21. Kyk! Die Here ons God plaas hierdie land voor ons. Gaan en neem dit in besit soos wat die Here, die God van ons voorouers, ons belowe het. Moenie bang wees nie! Moenie moed verloor nie!’

22. “Maar julle het gereageer: ‘Laat ons eers verkenners uitstuur om die land vir ons te gaan deurkyk. Hulle sal ons dan kan raadgee oor watter roete die beste sal wees. Hulle sal ook kan besluit watter stede om in te neem.’

23. Dit het vir my na ’n goeie idee gelyk en ek het twaalf verkenners uitgekies, een van elke stam.

24. Hulle het toe die Bergwêreld ingegaan, by die Eskolvallei uitgekom en dit verken.

25. Hulle het ook van die vrugte gepluk en daarvan na ons toe teruggebring. Hulle het gerapporteer dat die land wat die Here ons God vir ons gee, inderdaad ’n goeie land is.”

26. “Maar julle het teen die bevel van die Here julle God in opstand gekom en wou nie optrek nie.

27. Julle het in julle tente gemor en gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons uit Egipte laat trek sodat die Amoriete ons kan uitroei.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1