Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 7:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander offers verbrand. Die heerlikheid van die Here het die tempel gevul.

2. Die priesters kon nie die tempel van die Here binnegaan nie as gevolg van die glansryke teenwoordigheid van die Here.

3. Toe die hele volk van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die tempel neerdaal, het hulle met die gesig op die grond neergeval en die Here aanbid en geprys: “Hy is goed!Sy goedheid duur vir altyd!”

4. Die koning en al die mense het toe offerandes aan die Here geoffer.

5. Koning Salomo het ’n offerande van 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het die koning en die hele volk die tempel van God ingewy.

6. Die priesters het hulle aangewese plekke ingeneem, en so ook die Leviete wat gesing het: “Sy goedheid duur vir altyd!” Hulle het die sang begelei met musikale instrumente wat Dawid gemaak het om die Here te prys. Regoor die Leviete het die priesters trompette geblaas terwyl die hele Israel toegekyk het.

7. Daarna het Salomo die sentrale deel van die buitenste voorhof voor die Here se tempel gewy sodat hulle brandoffers en die vet van die maaltydoffer daar kon offer. Op die bronsaltaar wat hy gebou het, was daar nie plek vir die brandoffers, graanoffers en offervet nie.

8. Sewe dae lank het hulle by daardie geleentheid feesgevier. Daar was groot skares uit al die stamme van Israel. Hulle was van so ver as Lebo-Hamat in die noorde tot by die Egiptespruit in die suide.

9. Op die agtste dag het hulle ’n feestelike byeenkoms gereël, want hulle het die wyding van die altaar sewe dae lank gevier. Daarna het hulle vir nog sewe dae die Huttefees gevier.

10. Teen die einde van die feesvierings het Salomo die mense huis toe gestuur, op die drie en twintigste dag van die sewende maand. Hulle was almal bly en vol vreugde omdat die Here so goed was vir Dawid, Salomo en sy volk Israel.

11. So het Salomo die tempel van die Here, asook die koninklike paleis, voltooi. Hy het alles wat hy beplan het om te doen, suksesvol afgehandel.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 7