Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:14-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. het die Gees van die Here in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf.

15. Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die Here vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.

16. Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn.

17. Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!”

18. Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die Here aanbid.

19. Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die Here die God van Israel met oorgawe te prys.

20. Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die Here julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.”

21. Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die Here gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid:“Loof die Here,want sy troue liefde duur vir altyd.”

22. Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg.

23. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig.

24. Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie.

25. Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel.

26. Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die Here geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20