Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:5-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Toe hy daar aankom, kry hy vir Jehu wat saam met ander offisiere beraadslaag. “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal,” sê hy.“Vir watter een van ons?” vra Jehu.“Vir u, Generaal,” antwoord hy.

6. Jehu het toe die vergadering verlaat en die huis binnegegaan. Toe vat die profeet die fles en giet die olie uit op Jehu se kop en sê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou as koning oor die Here se volk Israel.

7. Jy moet die koningshuis van Agab uitroei. Op hierdie manier sal Ek die bloed van my dienaars die profete wreek en die bloed van al die dienaars van die Here wat Isebel doodgemaak het.

8. Die hele familie van Agab moet uitgeroei word. Dit geld elke manlike persoon, slaaf of vry, in Israel.

9. ‘Ek sal met die koningshuis van Agab maak soos Ek met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat, en met dié van Baesa seun van Agija gemaak het.

10. Die honde sal Isebel opvreet op die stuk grond in Jisreël en niemand sal haar begrawe nie.’” Toe het die profeet die deur oopgemaak en weggehardloop.

11. Jehu het teruggegaan na die offisiere van die koning. Een van hulle het vir hom gevra: “Wat wou die kranksinnige man hê? Is alles reg?”“Jy ken mos die praatjies van so ’n mens,” antwoord Jehu.

12. “Jy vertel nie die waarheid nie,” sê hulle. “Toe, sê nou vir ons!” Jehu antwoord hulle: “Dis wat hy gesê het: ‘Die Here salf jou as koning oor Israel.’”

13. Hulle het dadelik hulle klere voor hom op die trappe uitgesprei en op die trompet geblaas terwyl hulle skreeu: “Jehu is koning!”

14. Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi het saamgesweer teen koning Joram. Joram was saam met die hele leër van Israel by Ramot in Gilead, besig om Israel teen koning Gasael van Aram te verdedig.

15. Maar Joram het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel van die wonde wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael van Aram. Jehu sê vir die manskappe by hom: “As julle met my saamstem, sorg dan dat niemand wegkom uit die stad om dit in Jisreël te vertel nie.”

16. Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gery. Koning Joram het daar van sy wonde herstel en koning Ahasia van Juda het hom daar gaan besoek.

17. Terwyl die wag op die toring van Jisreël gestaan het, sien hy Jehu en sy geselskap naderkom. Hy sê: “Ek sien ’n afdeling soldate aankom!”“Stuur ’n perderuiter uit om vas te stel of hulle in vrede kom,” antwoord Joram.

18. Die perderuiter het Jehu tegemoetgegaan en gesê: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu antwoord hom: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”Die wag sê toe vir die koning: “Die boodskapper het by hulle aangekom, maar hy kom nie terug nie.”

19. Toe stuur die koning ’n tweede perderuiter. Hy het tot by hulle gery en gevra: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu het weer geantwoord: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9