Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:18-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Maar mag die Here my vergewe ten opsigte van hierdie één ding: Wanneer my heer die koning ingaan in die tempel van die god Rimmon om daar te aanbid en op my arm leun, mag die Here my vergewe wanneer ek ook moet buig in die tempel van Rimmon.”

19. “Gaan in vrede,” antwoord Elisa. Naäman het toe sy terugtog begin.Toe hy ’n entjie weg was,

20. sê Gehasi, die dienaar van Elisa die man van God, vir homself: “My heer moes nie toegelaat het dat hierdie Arameër Naäman weggaan sonder om ’n geskenk te aanvaar uit alles wat hy saamgebring het nie. So seker as die Here leef, ek sal hom agternasit en iets by hom kry.”

21. Gehasi het hom toe agternagesit.Toe Naäman sien hoe hy agter hom aan hardloop, klim hy af van sy wa en gaan om hom te ontmoet. “Is daar iets verkeerd?” vra Naäman.

22. “Nee, alles is reg,” antwoord Gehasi. “My meester het my gestuur om vir u te sê twee jong profete het so pas uit die Efraimsberge aangekom. Hy sou graag 34 kilogram silwer en twee stelle klere wou hê om vir hulle te gee.”

23. “Sekerlik, maar vat 68 kilogram silwer,” sê Naäman. Hy het by hom daarop aangedring om die 68 kilogram silwer en twee stelle klere te neem. Dit het hy in twee sakke gepak en saam met die twee stelle klere aan twee van sy dienaars gegee om dit voor Gehasi uit te dra.

24. Toe hulle by die heuwel kom, vat Gehasi die geskenke by die dienaars en steek dit weg in sy huis. Daarna het hy die manne teruggestuur.

25. Toe hy by die profeet kom, vra Elisa vir hom: “Waar was jy, Gehasi?”“Ek was nêrens heen nie,” antwoord hy.

26. Maar Elisa sê vir hom: “Het my hart nie saamgegaan toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet nie? Is dit die tyd om geld en klere, olyfboorde en wingerde, skape en beeste, slawe en slavinne in die hande te kry?

27. Omdat jy dit gedoen het, sal jy en jou nageslag vir altyd ly aan die melaatsheid van Naäman.” Toe Gehasi die vertrek verlaat, was hy reeds melaats, so wit soos sneeu.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5