Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daar was ’n welvarende man uit die stam van Benjamin. Sy naam was Kis. Hy was die seun van Abiël en kleinseun van Seror, uit die familie van Bekorat en die familiegroep van Afiag.

2. Sy seun Saul was baie aantreklik, meer as enigiemand anders in Israel. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigeen van sy volksgenote.

3. Eendag het die donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak. Hy sê toe vir Saul: “Vat een van die jong manne saam met jou en gaan soek na die donkies.”

4. Hulle het oral in die Efraimsberge gesoek, in die Salisa-omgewing, die Saälimgebied en die hele Jeministreek. Hulle kon die donkies egter nêrens kry nie.

5. Toe hulle die gebied van Suf binnegaan, sê Saul vir die jong man: “Kom ons gaan terug huis toe. Teen hierdie tyd sal my pa meer bekommerd wees oor ons as oor die donkies!”

6. Maar die jong man sê: “Wag ’n bietjie, daar is ’n man van God in hierdie dorp. Hy word deur almal hoog geag omdat alles wat hy sê waar word. Laat ons eers na hom toe gaan. Dalk kan hy vir ons sê waar die donkies is.”

7. “Ons kan gaan, maar hoe kan ons hom vergoed?” antwoord Saul. “Selfs ons kos is al op. Ons het niks om vir hom as geskenk te gee nie.”

8. “Kyk,” sê die jong man. “Ek het nog hierdie drie gram silwer in my sak! Ek sal dit vir die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waarheen om te gaan.”

9. Destyds, wanneer mense ’n boodskap van God wou kry, is in Israel gesê: “Laat ons na die siener toe gaan.” Vandag se profete is toe sieners genoem.

10. “Dis goed so,” stem Saul in, “kom ons probeer.” Hulle gaan toe na die dorp waar die man van God was.

11. Terwyl hulle teen die steilte opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat op pad was om water te gaan haal. Hulle vra vir die meisies: “Is die siener hier?”

12. “Ja,” antwoord hulle. “Kyk, hy is net daar voor julle in die dorp. Maar maak gou, want hy het vandag hierheen gekom om deel te neem aan die volk se offer op die hoogte.

13. Wanneer julle die dorp binnegaan, sal julle hom kry net voor hy teen die hoogte opgaan om daar te eet. Die mense sal nie eet voordat hy opgedaag het om die offer te seën nie. Daarna sal die genooides eet. Gaan dadelik op daarheen, want hy sal nou daar wees.”

14. Hulle het teen die steilte opgegaan. Toe hulle die dorp binnekom, kom Samuel hulle tegemoet terwyl hy op pad was om op te gaan na die hoogte toe.

15. Die Here het al die vorige dag vertroulik aan Samuel bekendgemaak dat Saul sou kom. Hy het gesê:

16. “Môre omtrent hierdie tyd sal Ek ’n man uit Benjamin na jou toe stuur. Salf hom tot leier van my volk Israel. Hy sal hulle red van die mag van die Filistyne, want Ek het die nood van my volk raakgesien en hulle hulpgeroep gehoor.”

17. Toe Samuel vir Saul sien, sê die Here vir hom: “Dit is die man waarvan Ek jou vertel het. Hy sal oor my volk regeer.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9