hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die groot prostituut wat die

aardbewoners verlei het

1. Een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou, het nadergekom en met my gepraat: “Kom, ek sal jou die oordeel wys wat oor die groot prostituut, wat by die baie waterstrome bly, gaan kom.

2. Die konings van die aarde het ongeoorloofde seks met haar gehad, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar seksuele wanpraktyke.”

3. Die engel het my toe deur die Gees meegevoer na die woestyn toe. Daar het ek ’n vrou gesien wat op ’n bloedrooi monster sit. Die monster was aan alle kante vol godslasterlike name geskryf, en hy het sewe koppe en tien horings gehad.

4. Die vrou het pers en bloedrooi klere aangehad en was getooi met goud, kosbare stene en pêrels. In haar hand het sy ’n goue beker gevul met vieslikhede en die onrein dinge van haar seksuele wanpraktyke vasgehou.

5. Op haar voorkop was ’n geheimsinnige naam geskryf: “Groot Babilon, die moeder van dié wat seksuele wanpraktyke beoefen en van die losbandighede op die aarde.”

6. Ek het ook gesien dat die vrou dronk was van die bloed van hulle wat aan God toegewy is, van die bloed van hulle wat getuies van Jesus is. Ek het haar aangestaar, geheel en al verwonderd.

7. Die engel sê toe vir my: “Waarom is jy so verwonderd? Ek sal jou vertel wat die misterie van hierdie vrou is, en van die monster met die sewe koppe en tien horings wat haar ronddra.

8. “Die monster wat jy gesien het, wás eers, maar is nie nou meer nie. Hy gaan uit die bodemlose diepte uit opkom om dan na die verderf toe te gaan. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, sal verwonderd wees wanneer hulle die monster sien, want eers was hy en nou is hy nie meer nie en tog sal hy wees.

9. “In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig vir elkeen wat oor wysheid beskik. Die sewe koppe is die sewe heuwels waarop die vrou sit. Verder is daar ook sewe konings.

10. Vyf konings het reeds geval. Die sesde een is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; wanneer hy kom, moet hy net vir ’n kort rukkie bly.

11. En die monster wat eers was en nie meer is nie, is self die agtste koning. Hy hoort by die sewe, en is op pad na sy vernietiging toe.

12. “Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie heerskappy ontvang nie, maar kry saam met die monster een uur lank gesag as konings.

13. Hulle het net een doelwit in gedagte en hulle stel hulle krag en mag tot beskikking van die monster.

14. Hulle sal teen die Lam oorlog maak, maar die Lam – saam met dié wat Hy geroep en uitverkies het en wat betroubaar is – sal hulle oorwin, want Hy is die Here van die heersers en die Koning van die konings.”

15. Die engel het ook aan my gesê: “Die waterstrome wat jy gesien het waar die prostituut sit, verteenwoordig volke, skares mense, nasies en taalgroepe.

16. En die tien horings wat jy gesien het en die monster, hulle sal die prostituut haat en haar kaalgestroop en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verskroei.

17. “God het dit in hulle harte geplant om aan sy bedoeling uitvoering te gee. Hulle het een en dieselfde plan gehad: om hulle heerskappy tot beskikking van die monster te stel totdat God se woorde in vervulling gegaan het.

18. “Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”