hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sprinkane sak soos skerpioene

op die goddeloses toe

1. Daarna het die vyfde engel op sy trompet geblaas. Ek het gekyk hoe ’n ster van die hemel af op die aarde val, en die sleutel van die tonnel na die bodemlose put is aan hom gegee.

2. Hy het toe die tonnel na die bodemlose put oopgesluit. Daar het rook uit die tonnel opgedwarrel, soos die rook uit ’n groot smeltoond. Die son en die lugruim is deur die rook van die tonnel verduister.

3. Uit die rook het sprinkane oor die aarde heen geswerm. Hulle is toegelaat om dieselfde vermoë te hê as skerpioene.

4. Hulle is aangesê om nie die gras op die aarde, of enige plant of boom te beskadig nie, maar net die mense leed aan te doen wat nie die seëlmerk van God op hulle voorkoppe het nie.

5. Hulle is uitdruklik aangesê om nie die mense dood te maak nie, maar om hulle wel vyf maande lank te folter. Hulle foltering was soos die brandpyn wanneer ’n skerpioen jou steek.

6. Gedurende daardie dae sal die mense dit verkies om liewer dood te gaan, maar dit sal nie met hulle gebeur nie. Hulle sal begeer om dood te gaan, maar die dood sal hulle ontwyk.

7. Die sprinkane het gelyk soos perde wat voorberei is vir oorlog. Op hulle koppe was iets soos goue krone, en hulle gesigte het gelyk soos dié van mense.

8. Hulle het lang hare soos dié van vroue gehad, en hulle tande was soos dié van leeus.

9. Hulle het borsplate aangehad soos ysterharnasse, en die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk oorlog toe.

10. Hulle het sterte met angels net soos dié van skerpioene gehad, en in hulle sterte was hulle vermoë om die mense vyf maande lank leed aan te doen.

11. Hulle het as heerser die engel van die bodemlose put gehad. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks Apollion.

12. Die eerste verskrikking is verby. Kyk, daar volg nog twee hierna.

Miljoene perde rig

onberekenbare skade aan

13. Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God.

14. Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”

15. Die vier engele wat gereedgemaak is vir hierdie uur en dag en maand en jaar is toe losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak.

16. Die getal perderuiters was ongeveer 200 miljoen. Ek het gehoor wat die getal is.

17. Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: Hulle het vuurrooi en hemelsblou en swaelgeel borsplate aangehad. Die perde se koppe was soos dié van leeus en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael gestoom.

18. Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke gestoom het, is ’n derde van die mense doodgemaak.

19. Die perde se vermoë om skade aan te rig, lê in hulle bekke, maar ook in hulle sterte, want hulle sterte het koppe net soos slange waarmee hulle die skade aanrig.

20. Die oorblywende mense wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het ook nie tot inkeer gekom wat hulle dade betref nie. Hulle het eenvoudig aangehou om die bose geeste te aanbid, asook die afgode van goud, silwer, brons, klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

21. Hulle het hulle ook nie bekeer van hulle moorde of hulle toordery, seksuele sondes of stelery nie.