hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Lam maak die boekrol oop

1. Terwyl ek gekyk het, het die Lam een van die sewe seëls oopgebreek; en ek het een van die vier lewende wesens met ’n geluid soos ’n donderslag hoor sê: “Kom!”

2. Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n wit perd voor my! Sy ruiter het ’n boog vasgehou, en aan hom is ’n kroon gegee. Hy het as oorwinnaar uitgegaan met die doel om verder te gaan oorwin.

3. Toe die Lam die tweede seël oopgebreek het, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Kom!”

4. ’n Ander perd het uitgegaan, ’n rooie. Sy ruiter is toegelaat om die vrede van die aardbol weg te neem sodat sy inwoners mekaar uitmoor. Aan hom is ook ’n groot swaard gegee.

5. En toe die Lam die derde seël oopbreek, het ek gehoor dat die derde lewende wese sê: “Kom!” En ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n swart perd voor my! Sy ruiter het ’n weegskaal in sy hand vasgehou.

6. Ek het toe ’n geluid soos ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “’n Skep koring vir ’n dag se loon en drie skeppe gars vir ’n dag se loon. Moet tog nie die olyfolie en die wyn skade aandoen nie.”

7. Toe die Lam die vierde seël oopbreek, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!”

8. Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n bleekgrys perd voor my! Sy ruiter se naam was die Dood, en die doderyk het vlak agter hom gevolg. Aan hom is die mag gegee om ’n kwart van die aarde se mense dood te maak deur die swaard, hongersnood, ’n dodelike epidemie en deur die wilde diere van die aarde.

9. Toe die Lam die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van hulle wat doodgemartel is oor die boodskap van God en die getuienis wat hulle gelewer het.

10. Hulle het met ’n kragtige stem uitgeroep: “Hoe lank, o heilige en betroubare Heer, gaan U nog wag voordat U die oordeel voltrek en ons bloed op die bewoners van die aarde wreek?”

11. Aan elkeen van hulle is toe ’n lang wit kleed gegee, en hulle is aangesê om nog ’n klein rukkie te rus, tot die tyd aanbreek dat hulle medediensknegte en medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemartel gaan word, voltallig is.

12. Ek het gekyk toe die Lam die sesde seël oopbreek. Daar was ’n groot aardbewing; die son het swart geword soos ’n harige sak, en die hele maan het so rooi soos bloed geword.

13. Die sterre van die hemelruim het op die aarde geval, net soos ’n vyeboom sy groen navye afgooi wanneer dit deur ’n stormwind getref word.

14. Die hemelkoepel is weggeneem soos wanneer ’n boekrol opgerol word, en elke berg en eiland het uit hulle plek verskuif.

15. Die konings van die aarde en die hoogste amptenare, die militêre leiers, die rykes en die magtiges, elke slaaf en elke vrymens het gaan wegkruip in die grotte en onder die bergkranse.

16. Hulle sê toe vir die berge en die kranse: “Val op ons en verberg ons voor die oë van Hom wat op die troon sit en van die wraak van die Lam!”

17. Die belangrike dag van hulle wraak het aangebreek en wie kan staande bly?