hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die monster uit die see trek op

teen Christus

1. Toe het ek ’n monster uit die see sien opkom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien koningskrone en op sy koppe name wat God belaster het.

2. Die monster wat ek gesien het, het net soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was net soos dié van ’n beer en sy bek net soos dié van ’n leeu. Die draak het van sy eie krag, sy troon en groot mag aan hom gegee.

3. Aan een van sy koppe was hy oënskynlik dodelik verwond, maar sy dodelike wond het gesond geword. Die hele wêreld het verwonderd agter dié monster aan geloop.

4. Hulle het in aanbidding neergeval voor die draak omdat hy aan die monster mag gegee het. En hulle het die monster aanbid en gesê: “Wie is soos die monster? En wie kan teen hom oorlog maak?”

5. Dié monster is toegelaat om vreeslike en lasterlike dinge te sê; aan hom is ook die mag verleen om 42 maande lank só op te tree.

6. Hy het sy mond oopgemaak om teen God te laster; hy het God as persoon, sy woonplek en dié wat in die hemel woon, belaster.

7. Hy is ook toegelaat om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; aan hom is ook gesag gegee oor elke stam, volk, taalgroep en nasie.

8. Al die bewoners van die aarde sal in aanbidding voor hom neerkniel. Dit is hulle wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe aangeteken is nie – die Boekrol van die geslagte Lam.

9. Elkeen wat ’n oor het om te luister, moet hoor.

10. Wie vir gevangenskap bestem is, gaan in gevangenskap; wie bestem is om met die swaard doodgemaak te word, sal so doodgemaak word. In hierdie sake het die gelowiges volharding en vertroue nodig.

Die monster uit die aarde, in

diens van die draak en die

seemonster

11. Toe het ek ’n ander monster gesien wat uit die aarde opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ’n lam, maar hy het gepraat soos ’n draak.

12. Hy tree met al sy gesag namens die eerste monster op. En hy oorreed die aarde en al die bewoners daarvan om die eerste monster te aanbid, dit is dié een waarvan die dodelike wond gesond geword het.

13. Hy doen ook asemrowende wondertekens sodat hy voor die oë van die mense selfs vuur uit die hemel op die aarde laat neerkom.

14. En hy mislei die bewoners van die aarde deur die wondertekens wat hy toegelaat is om namens die monster te doen. Hy het ook die bewoners van die aarde beveel om ’n standbeeld vir die monster op te rig; dit is die monster wat die litteken van die swaard dra en wat weer lewend geword het.

15. Hy is ook toegelaat om lewe in die standbeeld van die monster te blaas sodat dit kan praat en almal laat doodmaak wat dit nie aanbid nie.

16. Hy verplig al sy volgelinge, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te kry.

17. Dit word gedoen sodat niemand kan koop of verkoop sonder die merk van die naam van die monster, of die getal van sy naam nie.

18. In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig. Laat die een wat insig het, die getal van die monster bereken, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is 666.