hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Om ruimhartig te gee is

liefdeswerk

1. Broers en susters, ons lig julle in oor die genade van God wat die gemeentes in Masedonië ontvang het.

2. Al is hulle ook hewig getoets deur swaarkry, het hulle uitermate blymoedig gebly, en hulle groot armoede het uitgeloop op oorvloedige vrygewigheid.

3. Ek getuig dat hulle volgens vermoë, ja, dat hulle selfs bo hulle vermoë gewillig was.

4. Met groot aandrang het hulle ons gesmeek om te mag deelneem aan die liefdeswerk en diens aan die gelowiges in Judea.

5. Dit was nie soos ons dit verwag het nie; eers het hulle hulleself aan die Here gegee, en toe aan ons sodat hulle kon optree volgens die wil van God.

6. Daarom het ons by Titus daarop aangedring om hierdie liefdeswerk waarmee hy vroeër begin het, nou ook by julle te voltooi.

7. Aangesien julle in elke opsig uitmunt – in geloof, met die woord, kennis, groot ywer en die liefde wat ons aan julle betoon het – munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk.

8. Ek sê dit nie as ’n opdrag nie, maar om die egtheid van julle liefde in vergelyking met die ywer van ander te toets.

9. Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10. Nou gee ek raad oor hierdie saak. Want dit is voordelig vir julle – julle wat nie net die eerste was om iets te doen nie, maar ook heel eerste gewíllig was om iets te doen.

11. Voltooi nou die werk sodat julle dit, uit die middele tot julle beskikking, met dieselfde geesdrif kan afrond as dié waarmee julle daarop besluit het.

12. As die geesdrif daar is en julle gee volgens wat julle het, is die gawe aanneemlik. Julle hoef nie meer as dit te gee nie.

13. Dit beteken egter nie dat hulpbetoon aan ander julle moet laat swaarkry nie. Dit is eerder ’n geval van balans.

14. Daar moet ’n balans wees tussen julle huidige oorvloed en hulle gebrek. Dan kan hulle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ’n manier kom daar ewewig.

15. Soos daar geskryf staan:“Die een met baie,het nie te veel gehad nie;en die een met ’n bietjie,nie te min nie.”

Die eerbare en ywerige Titus en

sy medewerkers

16. Ek is dankbaar teenoor God dat Hy Titus net so entoesiasties gemaak het om julle te help as wat ons is.

17. Hy het nie net ons ernstige versoek verwelkom nie, maar in sy ywer op sy eie na julle toe vertrek.

18. Saam met hom stuur ons die broer wat in al die gemeentes geprys word vir sy rol in diens van die evangelie.

19. Nie net dit nie, maar die broer is ook deur die gemeentes gekies as ons reisgenoot in hierdie liefdesdiens wat deur ons verrig word. Ons doen dit tot eer van die Here en as bewys van ons goeie trou.

20. Sodoende voorkom ons dat iemand ons sou verdink in verband met só ’n aansienlike som geld wat ons moet hanteer.

21. Ons is daarop bedag om eerbaar voor die Here op te tree, maar ook voor die mense.

22. Saam met hulle stuur ons ook nog ’n broer. Ons het hom dikwels en op baie maniere getoets en bevind dat hy ywerig is. Hy is nou nog baie yweriger omdat hy groot vertroue het in julle.

23. Wat Titus betref, hy is my kollega en medewerker in julle belang. Verder, wat ons broers betref, hulle is verteenwoordigers van die gemeentes en ’n eer vir Christus.

24. Betoon aan hulle julle liefde en laat die gemeentes duidelik sien dat ons rede het om trots te wees op julle.