hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Geliefdes, ons hét hierdie beloftes; laat ons onsself dan suiwer van elke verontreiniging van die liggaam en die gees om ons toewyding, uit eerbied vir God, volkome te maak.

Paulus is bly oor die gemeente

se inkeer

2. Skep vir ons ruimte by julle. Ons het niemand verontreg nie; ons het niemand se ondergang veroorsaak nie; ons het niemand uitgebuit nie.

3. Ek sê dit nie om iemand te veroordeel nie; ek het alreeds gesê dat julle ’n plek in ons harte het, maak nie saak of ons saamsterf of saamlewe nie.

4. Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. En ek is regtig vol moed en oorstelp van blydskap ten spyte van ons swaarkry.

5. Want toe ons in Masedonië aangekom het, kon ons geen rus vind nie. Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen: van buite – aanvalle; van binne – vrese.

6. Maar God, wat die vernederdes bystaan, het ons ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus.

7. Nie net deur sy teenwoordigheid nie, maar ook deur die manier waarop julle hom bemoedig het. Hy het ons vertel van julle ernstige begeerte, julle berou, asook julle ywer vir my. Daarom is ek nog meer opgewonde.

8. As ek julle deur my brief hartseer gemaak het, het ek nie nou berou daaroor nie. As ek tog berou gehad het, was dit net vir ’n kort rukkie toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het.

9. Nou is ek bly – nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat julle hartseer tot julle inkeer gelei het. Julle was hartseer volgens die wil van God. Julle is dus in geen opsig deur ons skade aangedoen nie,

10. want hartseer volgens die wil van God lei tot inkeer, wat weer lei tot verlossing waaroor ’n mens nooit spyt sal wees nie. Daarteenoor lei wêreldse hartseer tot die dood.

11. Kyk net watter entoesiastiese reaksie die belewenis van hartseer volgens die wil van God by julle meegebring het: die verantwoording, dringendheid om reg te maak, ontsag, verlange om my te sien, ondersteuning en erns om die oortreder te straf! In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is.

12. Daarom, al het ek aan julle geskryf, was dit nie soseer omdat iemand verkeerd gedoen het of omdat iemand verontreg is nie, maar veral sodat julle voor God kon bewys hoeveel ywer julle vir ons het.

13. Daarom is ons nou bemoedig. En by die bemoediging is ons ook uitermate opgewonde dat Titus só bly is omdat julle almal hom gemoedsrus gegee het.

14. As ek by hom oor julle gespog het, was ek nie beskaam nie. Net soos ons altyd die waarheid met julle gepraat het, só het dit nou geblyk dat ons die waarheid gepraat het toe ons by Titus oor julle gespog het.

15. En sy toegeneentheid teenoor julle word al hoe groter namate hy julle almal se gehoorsaamheid onthou en hoe julle hom met eerbied en ontsag ontvang het.

16. Ek is bly dat ek julle in elke opsig kan vertrou.