hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Saam met Christus leef

gelowiges uit die krag van God

1. Dit is die derde keer dat ek nou na julle toe kom. “In die mond van twee of drie getuies staan elke woord vas.”

2. Ek het dit vroeër gesê toe ek julle die tweede keer besoek het, en ek herhaal dit nou weer terwyl ek nog afwesig is – ek sê dit vir dié wat al vroeër sonde gedoen het, en ook vir die ander: As ek nou weer kom, sal ek niemand ontsien nie.

3. Julle soek mos ’n bewys dat Christus deur my praat. In werklikheid is Hy nie swak nie, maar betoon Hy Hom kragtig teenoor julle,

4. want al is Hy gekruisig in menslike swakheid, leef Hy uit die krag van God. Want ons is swak saam met Hom, maar ons sal ook saam met Hom uit die krag van God lewe. Dit sal duidelik blyk wanneer ons by julle is.

5. Ondersoek julleself of julle in ’n egte geloofsverhouding met Christus staan. Toets julleself. As julle nie daarvan oortuig is dat Christus in julle woon nie, het julle die toets nie geslaag nie.

6. Ek hoop julle besef dat ons wel die toets geslaag het.

7. Ons bid tot God dat julle niks slegs sal doen nie. Ons bid dit, nie om daarmee bewys te lewer dat ons die toets geslaag het nie. Ons bid dat julle die goeie sal doen, selfs al sou dit lyk of ons die toets nie geslaag het nie.

8. Want ons vermag niks teen die waarheid nie, maar net ten gunste van die waarheid.

9. Ons is maar te bly wanneer ons swak is, solank julle maar net sterk is. Waarvoor ons bid, is dat julle julle geestelik sal regruk.

10. Ek skryf hierdie dinge terwyl ek nog afwesig is sodat wanneer ek by julle is, ek nie nodig sal hê om met die gesag wat die Here aan my gegee het – om op te bou en nie om af te breek nie – streng teenoor julle op te tree nie.

11. Verder, broers en susters, wees bly, ruk julle reg, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle bly!

12. Groet mekaar met die soen van Christelike liefde. Al God se mense stuur aan julle groete.

13. Mag die genade van die Here Jesus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees.