hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daarom het ek uit my eie besluit om nie weer met hartseer na julle toe te kom nie.

2. As ek julle hartseer maak, wie sal my dan opbeur behalwe die persoon wat deur my toedoen hartseer gemaak is?

3. Ek skryf juis dit aan julle sodat ek nie weer daar kom en hartseer gemaak word deur dié mense wat my eintlik moes opgebeur het nie, want ek is oortuig daarvan dat julle almal gelukkig is as ek gelukkig is.

4. Onder groot spanning en beklemming van die hart, en met trane, het ek my vorige brief aan julle geskryf, nie om julle hartseer te maak nie, maar dat julle moet weet dat ek julle besonder baie liefhet.

Betoon vergifnis en liefde

5. As iemand hartseer veroorsaak het, is dit nie net ek wat hartseer is nie, maar julle almal, of ten minste sommige van julle.

6. Vir só ’n persoon is hierdie bestraffing deur die meerderheid genoeg.

7. Nou is dit die tyd om só ’n persoon eerder te vergewe en by te staan, anders kan hy deur te veel berou verteer word.

8. Daarom smeek ek julle: Bewys liefde aan hom.

9. Dit is juis hieroor dat ek geskryf het – om kennis te neem van julle getrouheid en of julle in alles gehoorsaam die pad bly loop.

10. As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Want as ek iets het om te vergewe, het ek dit reeds gedoen ter wille van julle, in die teenwoordigheid van Christus.

11. Die bedoeling is dat ons nie deur Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!

Julle is ons Christusbrief, deur

ons diens geskryf

12. Toe ek in Troas aangekom het om die Goeie Nuus van Christus te preek, is ’n deur vir my deur die Here oopgemaak.

13. Tog kon ek net nie tot rus kom nie omdat ek my broer Titus nie daar kon vind nie. Daarom het ek van die mense afskeid geneem en na Masedonië vertrek.

14. Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons aan Christus verbind is, altyd saamneem in sy triomftog. Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek.

15. Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg, onder dié wat verlos word sowel as onder dié wat verlore gaan.

16. Vir sommige is dit ’n doodsreuk tot die dood; vir ander is dit ’n lewensgeur wat lewe bring. Wie is tot hierdie taak in staat?

17. Ons is wel, want ons is nie soos baie mense wat smous met die woord van God nie. Omdat ons aan Christus verbind is, preek ons die woord met suiwer bedoelings – ’n woord wat van God self af kom, en waaroor ons aan Hom rekenskap moet gee.