hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ondersteun hierdie kollekte met

dankbaarheid en blydskap

1. Dit is eintlik oorbodig dat ek aan julle skryf oor die bediening aan die gelowiges in Jerusalem.

2. Ek ken julle gewilligheid en ek het al by die Masedoniërs oor julle gespog. “Agaje,” het ek opgemerk, “het al ’n jaar gelede voorbereidings begin tref.” En julle ywer het ook die meeste ander aangespoor.

3. Ek het hierdie broers gestuur sodat ons woorde van lof oor julle in hierdie saak nie leë woorde sal wees nie, en sodat julle gereed kan wees, soos ek reeds gesê het dat julle al is.

4. So nie, as daar Masedoniërs saam met my kom, en sien dat julle nog nie gereed is nie, sal ons ons skaam oor ons vertroue in julle – om nie eers te praat van julle eie skaamte nie.

5. Daarom beskou ek dit as noodsaaklik om die broers aan te spoor om vooruit na julle toe te gaan. Hulle moet die dankoffer gereedmaak wat julle vroeër reeds beloof het. Dan sal dit gereed wees as ’n vrywillige dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.

6. Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimhartig saai, sal volop oes.

7. Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

8. En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk.

9. Soos daar geskryf staan:“Hy het uitgedeelen gegee aan die armes;sy goedhartigheid bly vir altyd staan.”

10. God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei.

11. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons toedoen bring julle vrygewigheid mee dat God gedank word.

12. Die bediening van hierdie hulp voorsien nie net in die behoeftes van die gelowiges in Jerusalem nie, maar word ’n stroom van danksegging teenoor God.

13. Deur hierdie diensbetoning sal hulle aan God die eer gee. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en ook oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander.

14. Hulle sal ook vir julle bid en na julle verlang omdat die genade van God oor julle só groot was.

15. Dank aan God vir sy onbeskryflike gawe!