hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus. Deur die wil van God is ek ’n apostel van Christus Jesus. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my.Ons skryf aan die gemeente van God in Korinte en aan al God se mense wat in die hele Agaje woon.

aan die gemeente in

Korinte en stuur ’n seëngroet

2. Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

Die Vader van barmhartigheid

3. God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van barmhartigheid en die God wat in elke opsig bemoedig.

4. In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het.

5. Net soos ons ’n oorvloed ontberings ter wille van Christus deurmaak, só beleef ons ook oorvloedige bemoediging deur Christus se bemiddeling.

6. As ons dus swaarkry, is dit ter wille van julle bemoediging en verlossing. Want as ons God se bystand beleef, is dit sodat ons julle weer kan bemoedig. So kan julle met volharding die ontberings trotseer wat ons ook moet deurstaan.

7. En ons verwagting wat julle betref, staan op stewige bene: Ons weet dat net soos julle deel het aan die ontberings, julle ook só deel het aan die bemoediging.

8. Ons wil nie hê dat julle, broers en susters, oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe.

9. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek.

10. Dit is Hy wat ons van só ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red.

11. Daaraan werk julle saam deur ook vir ons te bid. Die gevolg is dat die gebede van baie mense ’n genadegawe vir ons bring en dat daar ook baie mense is wat Hom vir ons dank.

Paulus wil die Korintiërs nie

weer hartseer maak nie

12. Ons trots bestaan daarin dat ons gewete saam getuig dat ons teenoor die wêreld, maar in die besonder teenoor julle, opgetree het met die erns en egtheid wat van God af kom. Ons het staatgemaak op die onverdiende goedheid van God en nie op ons eie menslike insig nie.

13. Ons skryf aan julle niks wat julle nie self lees of verstaan nie. Ek hoop net dat julle ten volle sal verstaan

14. waar julle ons tot nou toe net gedeeltelik verstaan het. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal ons trots wees op julle, net soos julle op ons trots sal wees.

15. Met hierdie oortuiging het ek al vroeër beplan om na julle toe te kom sodat julle ’n dubbele geskenk kon ontvang.

16. Ek wou op die deurreis na Masedonië by julle aandoen en weer ’n keer op die terugreis van Masedonië af, om dan met julle hulp verder na Judea toe gestuur te word.

17. Was ek miskien wispelturig toe ek hierdie plan gemaak het? Of doen ek my beplanning volgens menslike oorwegings, met die gevolg dat dit by my gaan oor ’n “ja” as ek eintlik ’n “nee” bedoel?

18. God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie “ja” en terselfdertyd “nee” is nie.

19. Want die Seun van God, Christus Jesus, wat deur ons – dit is deur my, Silvanus en Timoteus – onder julle verkondig is, is nie terselfdertyd “ja” en “nee” nie. In Hom het God se “ja” plaasgevind,

20. want al die baie beloftes van God in Christus Jesus is ’n volmondige “ja”. Daarom is dit ook deur Christus se toedoen dat ons, om God te verheerlik, daarop “Amen” sê.

21. Hy het ons saam met julle op Christus as fondament geplaas, terwyl God ons ook vir Hom afgesonder het.

22. Hy het ons as sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee.

23. Ek roep God as getuie teen my eie lewe, dat ek julle in ag geneem het toe ek nie weer na Korinte toe gekom het nie.

24. Ons wil regtig nie baasspeel oor julle geloofslewe nie, maar ons is tog ook helpers om julle blydskap te bevorder. Julle is tog standvastig in julle geloof.