Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 6:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. In plaas daarvan is julle die mense wat onreg doen en ander benadeel en julle doen dit nogal aan medegelowiges.

9. Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie. Mense wat ’n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan,

10. diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

11. Daar was ’n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het.

12. Jy kan dalk sê: “Ek mag nou enigiets doen.” Maar ek sal daarop antwoord: “Nie alles is vir jou goed nie. Selfs al sê jy ‘ek mag enigiets doen’, mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie.”

13. Jy sê: “Kos is vir die maag en die maag is vir kos.” Dis waar, maar God sal eendag albei hierdie dinge tot niet maak. Ons liggame is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie. Hulle is daar vir die Here, net soos die Here sorg dra vir ons liggame.

14. God sal ons deur sy wonderlike krag opwek, net soos Hy ons Here opgewek het.

15. Besef julle nie dat ons liggame deel is van Christus nie? Sal ’n mens dan jou liggaam wat aan Christus behoort, met ’n prostituut verenig? Dit kan tog nie!

16. Of dink julle nie daaraan dat iemand wat homself aan ’n prostituut verbind, liggaamlik met haar een word nie? Die Skrif sê tog: “Die twee sal tot een liggaam verenig word.”

17. Daarteenoor word dié wat hulle aan die Here verbind, geestelik met Hom een.

18. Vlug dus weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ’n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie. Want as jy seksuele losbandigheid bedryf, sondig jy teen jou eie liggaam.

19. Of verstaan julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie,

20. want julle is teen ’n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 6