Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 4:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dit beteken dat julle ons moet beskou as blote diensknegte van Christus. Ja, as mense wat God se diepsinnige planne moet help bestuur.

2. Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.

3. Wat van my? Was ek betroubaar? Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle of enige menslike regbank my beoordeel nie. Ek vertrou selfs nie eers my eie oordeel in hierdie opsig nie!

4. My gewete is skoon, maar daarmee is ek nog nie noodwendig skotvry nie. Die Hére se oordeel oor my is al wat saak maak.

5. Julle moet dus nie voortydig ’n oordeel vel voordat die Here kom nie. Hý sal sy lig laat skyn op die dinge wat in die donker verborge lê, en Hý sal die motiewe van ons harte aan die lig bring. Dan sal God aan elkeen die lof gee wat hom of haar toekom.

6. Broers en susters, ek het myself en Apollos as voorbeelde gebruik sodat julle van ons kan leer. As julle na die Skrif luister, sal julle nie oor julle leiers teenoor mekaar spog nie.

7. Wat maak jou beter as enige ander gelowige? Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het?

8. Julle is so absoluut selfvoldaan! Julle dink julle is al klaar skatryk! Sonder ons het julle al klaar konings geword! Ek wens dit was werklik die geval, want dan sou ons al saam met julle op die troon gesit het!

9. Soms lyk dit vir my of God aan ons wat apostels is, die heel agterste plek in die prosessie toegeken het. Ons is soos terdoodveroordeeldes wat in die arena moet sterf, ’n skouspel waarmee die hele wêreld spot – engele sowel as mense.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 4