hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie. As iemand egter sonde doen, ons het ’n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.

2. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.

3. En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam.

4. As iemand sê: “Ek leef in ’n persoonlike verhouding met God,” maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ’n persoon ’n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.

5. Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is.

6. Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het.

Die liefdesopdrag is al oud,

maar tog ook nuut

7. Geliefdes, ek stuur nie aan julle ’n nuwe opdrag nie, maar ’n ou een wat julle nog altyd gehad het. Dié ou opdrag is die boodskap wat julle reeds lankal gehoor het.

8. Tog is dit ook ’n nuwe opdrag wat ek aan julle gee. Hierdie opdrag is betroubaar en van toepassing op julle verhouding tot Christus en tot mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds.

9. As iemand sê: “Ek leef in ’n hegte verhouding met die lig,” maar ’n medegelowige haat, verkeer so ’n mens nog steeds in die duisternis.

10. Enigeen wat sy medegelowiges liefhet, leef in ’n verbintenis met die lig en is nie ’n bron van struikeling vir ander nie.

11. Wie egter ’n medegelowige haat, is nog in die duisternis en leef in ’n noue verbintenis met die duisternis. Sulke persone besef nie waarheen hulle op pad is nie omdat die duisternis hulle oë verblind het.

Leef volgens julle identiteit as

Christene!

12. Ek skryf aan julle, kinders:Julle sondes is vergeweop grond van wat Jesus vir ons gedoen het.

13. Ek skryf aan julle, pa’s:Julle leef van die heel begin afin ’n persoonlike verhouding met Hom.Ek skryf aan julle, jonges:Julle het as oorwinnaars oor die bose uit die stryd getree.

14. Ek skryf aan julle, kinders:Julle leef in ’n persoonlike verhouding met die Vader.Ek skryf aan julle, pa’s:Julle leef van die heel begin af in ’n persoonlike verhouding met Hom.Ek skryf aan julle, jonges: Julle is kragtigen die woord van God is deelvan julle bestaan en julle het as oorwinnaars oor die boseuit die stryd getree.

15. Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis nie ook lief vir die Vader nie.

16. Wat ook al in die wêreld bestaan, alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die vals roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld.

17. Dié wêreld én sy begeerlikhede is aan die verbygaan. Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd.

Die finale toets is hóé ons glo en

lewe

18. Kinders, dit is nou die laaste uur. Soos julle al gehoor het, is die antichris aan die kom. Ook nou het baie antichriste alreeds hulle opwagting gemaak. Daaruit lei ons af dat dit die laaste uur is.

19. Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie.

20. Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.

21. Ek het aan julle geskryf, nie omdat julle nie kennis dra van die waarheid nie, maar juis omdat julle die waarheid ken en ook weet dat geen leuen uit die waarheid kan kom nie.

22. Wie is die groot leuenaar? Dit is die een wat aanhou ontken dat Jesus die Messias is. So ’n persoon is die antichris, wat nie die Vader en die Seun erken nie.

23. Elkeen wat nie die Seun erken nie, het ook nie deel aan die Vader nie. Elkeen wat die Seun egter erken, het ook deel aan die Vader.

24. Hou vol met dit wat julle van die heel begin af gehoor het. As julle leef volgens dit wat julle van die heel begin af gehoor het, sal julle ook verbonde bly aan die Seun en die Vader.

25. En dít is die belofte wat Hy self aan ons gemaak het: die ewige lewe.

26. Hierdie dinge het ek aan julle geskryf oor die mense wat julle probeer verlei.

27. Julle het immers die Heilige Gees ontvang van Hom wat in ’n hegte verhouding met julle leef; daarom het julle nie behoefte daaraan dat iemand julle onderrig nie. Sy Gees lig julle immers oor alles in, en wat Hý sê, is die waarheid en nie ’n leuen nie. En soos Hy julle geleer het, moet julle ook in ’n hegte verhouding met Hom leef.

28. En nou, kinders, leef in ’n hegte verhouding met Hom sodat, wanneer Hy ook al verskyn, ons die vrymoedigheid kan hê om nie beskaamd te staan by sy koms nie.

29. As julle dan met die wete leef dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat reg leef, deur Hom verwek is.