hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Een wat van die heel begin af bestaan het, is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het. Ons het Hom aandagtig waargeneem, en Hom met ons hande aangeraak. Dit gaan oor die Woord wat lewe gee.

2. Dié lewe het sigbaar verskyn en ons het dit gesien en getuig daarvan en deel dit aan julle mee – dit is die ewige lewe wat by die Vader was, maar nou aan ons bekendgemaak is.

3. Ons deel julle mee wat ons gesien en gehoor het sodat julle ook saam met ons daarin kan deel. Ons het saam deel aan die Vader en die Seun, Jesus Christus.

4. Ons skryf hierdie dinge sodat ons blydskap tot sy volle verwesenliking kan kom.

Maak dit die moeite werd: leef in

die lig

5. Dit is dan die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle meedeel: God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie.

6. As ons dan sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons. Ons optrede weerspieël nie die waarheid nie.

7. As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van elke sonde.

8. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.

9. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

10. As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ’n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.