hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Gees van die waarheid

teenoor die gees van misleiding

1. Geliefdes, moenie sommer almal glo wat daarop aanspraak maak dat hulle deur die Gees optree nie. Toets hulle om te bepaal of dié bepaalde gees sy oorsprong by God het, want daar het reeds baie vals profete die wêreld ingekom.

2. Hieraan herken julle die Gees van God: Elkeen wat erken dat Jesus Christus werklik ten volle mens geword het, is van God afkomstig.

3. Elkeen wat Jesus nie erken nie, is nie van God afkomstig nie. Dit is tipies van die antichris. Julle het mos gehoor dat hy aan die kom is, en hy is nou reeds in die wêreld aanwesig.

4. Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon.

5. Hierdie mense het die wêreld as oorsprong; daarom praat hulle uit ’n wêreldse oogpunt en luister die wêreld na hulle.

6. Ons is egter van God afkomstig; daarom luister dié wat God persoonlik ken, na ons. Elkeen wat nie van God afkomstig is nie, luister nie na ons nie. Dít is hoe ons weet wie die Gees van die waarheid het, en wie die gees van misleiding het.

Omdat God ons só liefgehad het,

moet ons ook mekaar liefhê

7. Geliefdes, laat ons mekaaraanhou liefhê, want volmaakte liefdeis van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.

8. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is.

9. Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaaktoe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang.

10. Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur hetom ons sondes weg te neem.

11. Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.

Wanneer God se liefde ten volle

verwesenlik word

12. Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom.

13. Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het.

14. Verder, ons het dit fyn raakgesien en ons hou aan daarvan getuig dat die Vader die Seun gestuur het as Verlosser van die mensdom.

15. Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ’n hegte verhouding met hulle en hulle met God.

16. Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ’n hegte verhouding met God en God met hulle.

17. Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Ons leef immers op dieselfde wyse as Christus in hierdie wêreld – sonder vrees.

18. Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie.

Ons liefde vir God word sigbaar

in ons liefde vir ons naaste

19. Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.

20. As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.

21. Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.